Die Pad van Waarheid tot die Lewe

1 Sh'mu'el 20:26-40 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

26. Nogtans het Sha’ul niks gepraat op daardie dag nie, want hy het gedink: “Dit is toevallig, hy is nie rein nie, sekerlik is hy nie rein nie.”

27. Dit het gebeur op die tweede dag van die nuwemaan dat Dawid se plek leeg was. Sha’ul sê vir Y’honatan, sy seun: “Waarom het die seun van Yishai nie na die maaltyd gekom nie, nie gister of vandag nie?”

28. Y’honatan antwoord Sha’ul toe: “Dawid het my dringend verlof gevra om na Beit-Legem te gaan

29. want hy het gesê: ‘Laat my asseblief gaan, aangesien ons familie ’n offer in die stad het en my broer het my beveel om dit by te woon. As ek dan nou guns in jou oë gevind het, laat my asseblief gaan dat ek my broers kan sien.’ Hy het daarom nie na die koning se tafel toe gekom nie.”

30. Toe het Sha’ul se woede ontvlam teen Y’honatan en hy sê vir hom: “Jy, seun van ’n perverse rebelse vrou, weet ek nie dat jy die seun van Yishai kies tot jou eie skande en tot skande van jou moeder se naaktheid nie?

31. Want solank as wat die seun van Yishai op die aarde leef, sal nie jy of jou koningskap bevestig word nie; daarom, stuur nou en bring hom na my toe, want hy moet sekerlik sterf.”

32. Y’honatan het egter vir Sha’ul, sy vader, geantwoord en vir hom gesê: “Waarom moet hy gedood word, wat het hy gedoen?”

33. Toe slinger Sha’ul sy spies na hom toe om hom neer te vel. Toe het Y’honatan geweet dat sy vader besluit het om Dawid dood te maak.

34. Toe staan Y’honatan in gloeiende woede van die tafel af op en het geen kos geëet op die tweede dag van die nuwemaan nie, want hy was bedroef oor Dawid omdat sy vader hom onteer het.

35. Dit het gebeur in die oggend dat Y’honatan uitgegaan het in die veld in vir die afspraak met Dawid en ’n jongman was saam met hom.

36. Hy sê vir sy dienskneg: “Hardloop, vind nou die pyle wat ek gaan skiet.” Terwyl die jongman hardloop, skiet hy ’n pyl verby hom.

37. Toe die jongman by die plek van die pyl kom wat Y’honatan geskiet het, roep Y’honatan die jongman agterna en sê: “Is die pyl nie verby jou nie?”

38. Y’honatan roep agter die jongman aan: “Maak gou, vinnig, moenie bly nie.” Y’honatan se jongman tel die pyl op en kom na sy meester toe,

39. maar die jongman was van niks bewus nie: net Y’honatan en Dawid het van die saak geweet.

40. Toe gee Y’honatan sy wapens vir die jongman en sê vir hom: “Gaan, bring dit na die stad.”