Die Pad van Waarheid tot die Lewe

1 Sh'mu'el 20:13-31 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

13. As dit my vader plesier om jou skade aan te doen, mag יהוה so aan Y’honatan doen en ook meer, as ek dit nie aan jou bekendmaak en jou wegstuur nie sodat jy veilig kan gaan. Mag יהוה by jou wees soos Hy by my vader was.

14. As ek dan nog lewe, sal jy my nie die liefdevolle omgee van יהוה bewys dat ek nie sal sterf nie?

15. Jy sal ook vir ewig nooit jou liefdevolle omgee aan my huis onttrek nie, selfs nie wanneer יהוה elke een van die vyande van Dawid afsny van die oppervlak van die aarde af nie.”

16. So het Y’honatan ’n verbond gesluit met die huis van Dawid. “Mag יהוה dit eis van die hand van Dawid se vyande.”

17. Y’honatan het Dawid weer laat sweer as gevolg van sy liefde vir hom, want hy het hom liefgehad soos hy sy eie lewe liefgehad het.

18. Toe het Y’honatan vir hom gesê: “Môre is dit nuwemaan en jy sal gemis word, want jou sitplek sal leeg wees.

19. Wanneer jy drie dae gebly het, moet jy gou afkom en gaan na die plek waar jy jou op daardie gebeurlike dag weggesteek het en jy moet by die klip `Ezel bly.

20. Ek sal drie pyle aan die kant skiet asof ek na ’n teiken skiet

21. en let op, ek sal die jongman stuur: ‘Gaan soek die pyle!’ As ek spesifiek vir die jongman sê: ‘Let op, die pyle is dié kant van jou, kry hulle,’ kom dan, want dit is veilig vir jou en geen skade nie, so waar as יהוה leef!

22. As ek egter vir die jongman sê: ‘Let op, die pyle is anderkant jou,’ gaan, want יהוה het jou weggestuur.

23. Wat die ooreenkoms betref waaroor ons gepraat het, let op, יהוה is saam met my en jou vir ewig.”

24. Dawid het in die veld weggekruip en toe die nuwemaan kom, gaan die koning aansit om kos te eet.

25. Die koning het op sy sitplek gaan sit soos gewoonlik, die sitplek teen die muur; toe het Y’honatan op ‘n plek gaan sit en Avner het langs Sha’ul gesit, maar Dawid se plek was leeg.

26. Nogtans het Sha’ul niks gepraat op daardie dag nie, want hy het gedink: “Dit is toevallig, hy is nie rein nie, sekerlik is hy nie rein nie.”

27. Dit het gebeur op die tweede dag van die nuwemaan dat Dawid se plek leeg was. Sha’ul sê vir Y’honatan, sy seun: “Waarom het die seun van Yishai nie na die maaltyd gekom nie, nie gister of vandag nie?”

28. Y’honatan antwoord Sha’ul toe: “Dawid het my dringend verlof gevra om na Beit-Legem te gaan

29. want hy het gesê: ‘Laat my asseblief gaan, aangesien ons familie ’n offer in die stad het en my broer het my beveel om dit by te woon. As ek dan nou guns in jou oë gevind het, laat my asseblief gaan dat ek my broers kan sien.’ Hy het daarom nie na die koning se tafel toe gekom nie.”

30. Toe het Sha’ul se woede ontvlam teen Y’honatan en hy sê vir hom: “Jy, seun van ’n perverse rebelse vrou, weet ek nie dat jy die seun van Yishai kies tot jou eie skande en tot skande van jou moeder se naaktheid nie?

31. Want solank as wat die seun van Yishai op die aarde leef, sal nie jy of jou koningskap bevestig word nie; daarom, stuur nou en bring hom na my toe, want hy moet sekerlik sterf.”