Die Pad van Waarheid tot die Lewe

1 Sh'mu'el 17:42-49 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

42. Toe die F’lishtyn kyk en vir Dawid, wat rooierig was met ’n aantreklike voorkoms, sien, het hy hom verag omdat hy nog jonk was.

43. Die F’lishtyn vra vir Dawid: “Is ek ’n hond dat jy na my toe kom met stokke?” Die F’lishtyn het Dawid vervloek by sy gode.

44. Die F’lishtyn sê ook vir Dawid: “Kom na my toe en ek sal jou vlees vir die voëls van die lug en die diere van die veld gee.”

45. Toe sê Dawid vir die F’lishtyn: “Jy kom na my toe met ’n swaard, ’n spies en ’n lans, maar ek kom na jou toe in die Naam (Karakter en Outoriteit) van יהוהTzva’ot, die God van die leërs van Yisra’el, wat jy uitgetart het.

46. Vandag sal יהוה jou in my hand oorlewer en ek sal jou neerslaan en jou kop van jou af verwyder en ek sal vandag die lyke van die leër van die F’lishtyne vir die voëls van die lug en die wilde diere van die aarde gee sodat die hele aarde kan weet dat daar ’n God in Yisra’el is

47. en dat hierdie hele menigte mag weet dat יהוה nie deur swaard en spies bevry nie, want die geveg behoort aan יהוה en Hy sal julle in ons hand gee.”

48. Dit het gebeur toe die F’lishtyn opstaan en naderkom om Dawid te ontmoet dat Dawid vinnig na die gevegslyn hardloop om die F’lishtyn te ontmoet.

49. Dawid steek sy hand in sy sak en vat ’n klip daaruit en slinger dit en hy tref die F’lishtyn op sy voorkop en die klip sink in sy voorkop in dat hy op sy gesig teen die grond val.