Die Pad van Waarheid tot die Lewe

1 Sh'mu'el 17:40-47 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

40. Hy het sy staf in sy hand gevat en vir hom vyf gladde klippe uit die spruit gekies en dit in sy herderssak gesteek wat hy gehad het, in die slingersak en sy slinger was in sy hand en hy het die F’lishtyn genader.

41. Toe het die F’lishtyn nadergekom na Dawid toe met die skilddraer voor hom.

42. Toe die F’lishtyn kyk en vir Dawid, wat rooierig was met ’n aantreklike voorkoms, sien, het hy hom verag omdat hy nog jonk was.

43. Die F’lishtyn vra vir Dawid: “Is ek ’n hond dat jy na my toe kom met stokke?” Die F’lishtyn het Dawid vervloek by sy gode.

44. Die F’lishtyn sê ook vir Dawid: “Kom na my toe en ek sal jou vlees vir die voëls van die lug en die diere van die veld gee.”

45. Toe sê Dawid vir die F’lishtyn: “Jy kom na my toe met ’n swaard, ’n spies en ’n lans, maar ek kom na jou toe in die Naam (Karakter en Outoriteit) van יהוהTzva’ot, die God van die leërs van Yisra’el, wat jy uitgetart het.

46. Vandag sal יהוה jou in my hand oorlewer en ek sal jou neerslaan en jou kop van jou af verwyder en ek sal vandag die lyke van die leër van die F’lishtyne vir die voëls van die lug en die wilde diere van die aarde gee sodat die hele aarde kan weet dat daar ’n God in Yisra’el is

47. en dat hierdie hele menigte mag weet dat יהוה nie deur swaard en spies bevry nie, want die geveg behoort aan יהוה en Hy sal julle in ons hand gee.”