Die Pad van Waarheid tot die Lewe

1 Sh'mu'el 17:1-7 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

1. Die F’lishtyne het hulle leërs bymekaargebring vir oorlog en vergader by Sokhoh wat aan Y’hudah behoort en kamp opgeslaan tussen Sokhoh en `Azekah in Efes-Dammim.

2. Sha’ul en die manne van Yisra’el het bymekaargekom en gekamp in die vallei van Elah en in gevegsorde opgestel om teen die F’lishtyne te veg.

3. Die F’lishtyne het aan die een kant op die berg gestaan terwyl Yisra’el aan die ander kant op die berg gestaan het, met die vallei tussen hulle.

4. Toe kom daar ’n kampioen uit die leërs van die F’lishtyne, genaamd Golyat, vanaf Gat; sy lengte was ses el en ’n span (2,92 meter).

5. Daar was ’n koper helmet op sy kop en hy was geklee in ’n pantser van skubbe wat vyf duisend sikkels koper geweeg het,

6. met skeenplate van koper aan sy bene en ’n koper lans tussen sy skouers.

7. Die steel van sy spies was soos ’n wewersbalk en die lem van sy spies was ses honderd sikkels yster; sy skilddraer het ook voor hom geloop.