Die Boodskap

Spreuke 3:3-15 Die Boodskap (DB)

3. Moet nooit ophou om die Here lief te hê nie. Hou aan om reg te leef! Hierdie spreuke sal jou daarmee help. Bind al die spreuke soos ’n kettinkie om jou nek. Skryf dit in jou hart sodat jy dit nooit vergeet nie.

4. Dan sal die Here die goeie dinge van die lewe vir jou gee. En die mense sal ook van jou hou.

5. Moenie dink jy weet altyd die beste nie. Begin eerder elke dag weer van voor af om die Here lief te hê. En los tog al die slegte en verkeerde dinge.

6-7. Vertel die Here alles waaroor jy dink, alles wat jy wil doen. Dan sal jy sien hoe Hy jou help. So ’n lewenshouding sal jou baie gelukkig maak.

8. Dit sal selfs vir jou liggaam wonders doen. Jy sal gesond voel en vol krag wees.Dien die Here met jou talente.

9. Gee aan die Here ook ’n goeie deel van jou geld.

10. Dan sal jy meer as genoeg hê om van te leef. Jou lewe sal vol vreugde wees.

11. Soms ervaar jy hartseer en teleurstelling. Soms is jy kwaad vir die Here. Moet Hom egter nooit in jou woede vloek of verwyt nie. Soos ’n goeie pa soms met sy geliefde seun raas, so maak die Here ook met ons.

12. Hy raas met ons omdat Hy ons so baie liefhet. So help Hy ons om met nog groter wysheid en vreugde te leef.

13. Iemand wat elke dag reg leef en met insig optree, se lewe is vol geluk. Die blydskap wat uit ’n wyse lewe straal, is baie kosbaar.

14. Dit is baie meer werd as al die banke se geld en al die myne se goud,

15. baie meer as die allerkosbaarste dinge wat jy graag wil hê.