Die Boodskap

Spreuke 29:16-23 Die Boodskap (DB)

16. Wanneer slegte mense regeer, heers wanorde en korrupsie. Gelowiges weet dat so ’n regering tot ’n val sal kom.

17. Tug jou kind en hy is jou trots. Dissiplineer hom en hy maak jou gelukkig.

18. Waar die woord nie gehoor word nie, doen mense net wat hulle wil. Wie die wil van die Here ernstig opneem, is ’n gelukkige mens.

19. Iemand wat vir jou werk, luister nie altyd na wat jy sê nie. Hy verstaan wat jy sê, maar hy steur hom eenvoudig nie aan jou nie.

20. Ken jy iemand wat praat voordat hy dink? Wel, daar is vir ’n dom mens meer hoop om te verander as vir hom.

21. Jou werker moet presies weet waar hy met jou staan. As dit nie gebeur nie, kan jy groot skade ly.

22. Iemand met ’n vinnige humeur veroorsaak moeilikheid. Iemand se woedeuitbarstings doen grote skade.

23. Iemand wat baie van homself dink, word hard grond toe gebring. Iemand wat nederig is, dwing respek af.