Die Boodskap

Spreuke 29:13-26 Die Boodskap (DB)

13. ’n Arm mens en die een wat hom onderdruk, is albei die handewerk van God. Hy weet wat hulle doen en sê.

14. As ’n regering vir die armes omgee, sal hulle altyd onthou word.

15. Tug en dissipline help ’n kind om reg te leef. Die kind wat aan homself oorgelaat word, is ’n skandemaker.

16. Wanneer slegte mense regeer, heers wanorde en korrupsie. Gelowiges weet dat so ’n regering tot ’n val sal kom.

17. Tug jou kind en hy is jou trots. Dissiplineer hom en hy maak jou gelukkig.

18. Waar die woord nie gehoor word nie, doen mense net wat hulle wil. Wie die wil van die Here ernstig opneem, is ’n gelukkige mens.

19. Iemand wat vir jou werk, luister nie altyd na wat jy sê nie. Hy verstaan wat jy sê, maar hy steur hom eenvoudig nie aan jou nie.

20. Ken jy iemand wat praat voordat hy dink? Wel, daar is vir ’n dom mens meer hoop om te verander as vir hom.

21. Jou werker moet presies weet waar hy met jou staan. As dit nie gebeur nie, kan jy groot skade ly.

22. Iemand met ’n vinnige humeur veroorsaak moeilikheid. Iemand se woedeuitbarstings doen grote skade.

23. Iemand wat baie van homself dink, word hard grond toe gebring. Iemand wat nederig is, dwing respek af.

24. Wie gesteelde goed koop, is net so skuldig. Hy weet dit is verkeerd, maar steur hom nie daaraan nie.

25. Angs is soos ’n strik waarin jy vasgevang word. Jy kom nie los nie. Wie die Here vertrou, voel veilig.

26. Mense kruip by invloedrykes om gunste te kry. Vertrou eerder op die Here. Hy sal jou saak hanteer.