Die Boodskap

Spreuke 2:1-14 Die Boodskap (DB)

1. Jong vriend, indien jy na my wyse woorde oor die alledaagse lewe luister en my voorskrifte soos ’n kosbare skat binne-in jou bewaar,

2. indien jy jou ore vir hierdie lewenswaarhede spits en goed oor alles nadink,

3. indien jy na insig in die alledaagse lewe smag en meer kennis begeer oor hoe om te leef,

4. indien jy heeltyd hierna soek soos ’n mens na kosbare silwer of na skatte soek,

5. sal jy die Here se liefde begin verstaan. Jy sal weet hoe om wys en gelukkig te leef.

6. Onthou egter net een saak: wysheid om reg te leef kom net van die Here af. Kennis en insig is net by Hom te kry.

7. Hy gaar arms vol wysheid vir die gelowige op. Dit is net vir ons bedoel vir wie die Here liefhet. Soos ’n skild sal dit ons teen slegte dade beskerm. Dit sal ons aanspoor om gelukkig te leef.

8. Al die spreuke sal jou leer hoe om reg op te tree. Jy sal sommer lus wees om reg te leef.

9. Dit sal vir jou lekker wees om daaroor na te dink. En jy sal weet hoe om met insig en begrip in elke situasie op te tree.

10. Wysheid sal jou van verkeerde dinge weghou en jou lewe verryk.

11. Jy sal ook begin let op wat jy sê. Jy sal verstandig raak.

12. Van sekere tipes mense sal jy wegbly,

13. veral van diegene wat niks van lewensgeluk wil weet nie,

14. hulle wat dit geniet om heeltyd verkeerde dinge te doen.