Die Boodskap

Spreuke 1:17-33 Die Boodskap (DB)

17. ’n Voëlnet word tog nie voor voëls gegooi nie. Hulle sien dit en vlieg weg.

18. Slegte mense is egter anders. Hulle sien nie die net nie en word daarin verstrengel.

19. Hulle draai hulle vaster in hulle eie sonde. En op ’n dag is dit klaarpraat met hulle. Sonde kos hulle hulle lewe.

20. Lewenswysheid is soos ’n predikant wat in die strate en die groot bymekaarkomplekke preek.

21. Sy loop die stad plat en verkondig haar boodskap oral:

22. “Hoe lank sal julle, geestelik onvolwassenes, met julle onvolwassenheid aanhou; sal julle, ligsinniges, met ’n gelukkige lewenswandel spot; sal julle, dommes, ware kennis vertrap?

23. “Bekeer julle! Luister na my woorde! Dan sal ek julle met al die spreuke wys hoe om reg te leef. Ek sal julle vertel hoe om geluk te vind.

24. “Waarom luister julle nie as ek praat nie? Waarom steek ek die hand van vriendskap na julle uit en julle verwerp dit?

25. Al my goeie raad oor die lewe het julle in die wind geslaan. Aan my woorde het julle julle nie gesteur nie.

26. “Omdat julle, dommes, julle eie ondergang bewerk, sal ek julle nog eendag uitlag en met julle spot.

27. As vrees julle beetpak, as paniek julle soos ’n magtige stormwind oorweldig, as ellende julle soos ’n onverwagse warrelwind tref, as angs julle deel word, sal ek met julle spot.

28. “Dan sal julle skielik by my wil weet hoe om te leef, maar ek sal julle nie sê nie. Vinnig sal julle by my insig soek, maar niks kry nie.

29-31. “Omdat julle egte lewenskennis verag het, die Here nie liefgehad het nie, alle raad vir ’n gelukkige lewe in die wind geslaan het; daarom sal julle die vrot vrugte van julle verskriklike dade proe. Julle slim ou plannetjies sal julle nog walg.

32. Dom mense loop hulle in die dood vas. Hulle is so selfversekerd, maar hulle word vernietig.

33. “Wie die wysheid ernstig opneem, is ’n gelukkige mens. Hy sal veilig voel en geen angs vir die lewe hê nie.”