Die Boodskap

Rigters 8:27-35 Die Boodskap (DB)

27. Gideon het toe ’n afgodsbeeld van die goud gemaak en dit in sy tuisdorp, Ofra, gesit. Dit was nie lank nie of die Israeliete het hulle rug vir God gedraai en hierdie afgod begin aanbid. Hierdie beeld het Gideon en sy familie verlei om weg te dwaal van die Here af.

28. Al die Midianiete is deur Israel verslaan. Hulle het nooit van hierdie neerlaag herstel nie. Hierna was daar tydens Gideon se leeftyd - so ongeveer 40 jaar lank - vrede in die land.

29. Gideon seun van Joas is ná die oorlog terug huis toe.

30. Hy het 70 seuns gehad, want hy het baie vroue gehad.

31. Hy het ook ’n seun by sy byvrou in Sigem gehad. Sy naam was Abimelek.

32. Gideon was al baie oud toe hy dood is. Hy is in sy pa, Joas die Abiësriet, se graf in Ofra begrawe.

33. Na Gideon se dood het die Israeliete weer die Baäls begin dien. Hulle het Baäl-Berit hulle hoofgod gemaak.

34. Hulle het heeltemal van die Here hulle God, wat hulle van hulle vyande verlos het, vergeet.

35. Ten spyte van al die goeie dinge wat Jerubbaäl, dit is nou Gideon, vir Israel gedoen het, het hulle nie enige respek aan sy gesin bewys nie.