Die Boodskap

Rigters 20:2-22-23 Die Boodskap (DB)

2. Al die stamme se leiers was by hierdie vergadering van die volk van God teenwoordig. Daar was ook 400 000 soldate met swaarde gewapen.

3. Die boodskap het vinnig by die Benjaminiete uitgekom dat die ander stamme by Mispa bymekaargekom het. Die volk wou weet hoe so ’n ongehoorde ding kon gebeur het.

4. Die Leviet wie se byvrou vermoor is, het vertel: “Ek en my vrou het in Gibea in die gebied van Benjamin aangekom terwyl ons op reis was en besluit om daar te oornag.

5. Die mans van Gibea het in die nag gekom en die huis omsingel waarin ek was. Hulle wou my aanrand. Om die waarheid te sê, hulle wou my doodmaak, maar op die ou end het hulle my byvrou verkrag tot sy dood is.

6. Toe het ek haar liggaam in twaalf stukke opgesny en een stuk aan elke stam van Israel gestuur; hierdie mans het ’n afskuwelike ding onder ons volk gedoen.

7. Nou is ons almal hier, en ons is almal Israeliete. Wat gaan ons hieraan doen?”

8. Die volk het eenparig verklaar: “Nie een van ons, maak nie saak waar jy bly nie, gaan terug huis toe nie.

9. Wat ons wel gaan doen, is om Gibea ’n les te leer. Ons sal lootjies trek om te sien wie dit gaan doen.

10. Ons sal so te werk gaan: een tiende van die mans van elke stam sal gekies word om te sorg dat die soldate genoeg kos het, die res sal Gibea gaan straf vir die vieslike ding wat hulle in Israel gedoen het.”

11. Die volk het saamgestem. Hulle het toe gereedgemaak om die dorp aan te val.

12. Die Israeliete het boodskappers na die stam van Benjamin toe gestuur om vir hulle te vra: “Watse verskriklike dinge vang julle aan?

13. Lewer hierdie spul siek sondaars van Gibea aan ons uit dat ons hulle kan doodmaak en dié bose ding in Israel kan uitroei.” Maar die mense van Benjamin het hulle nie hieraan gesteur nie.

14. Hulle soldate het uit al die stede in die gebied van Benjamin in Gibea bymekaargekom om teen Israel oorlog te maak.

15-16. Ses en twintig duisend van hulle beste soldate het in Gibea aangekom om hulle by die 700 linkshandige uitgesoekte troepe wat daar gebly het, aan te sluit. Hulle kon keer op keer ’n haar met ’n klip uit ’n slingervel raak gooi.

17. Israel self het 400 000 goed opgeleide soldate gehad, dit is nou sonder om Benjamin se soldate by te tel.

18. Voor die geveg is hulle Bet-El toe om God te raadpleeg. Hulle het vir God gevra: “Watter stam moet die aanval teen Benjamin lei?”“Die stam van Juda,” het die Here geantwoord.

19. Vroeg die volgende môre is die Israelitiese leër daar weg en hulle het regoor Gibea gaan kamp opslaan.

20. Hulle het hulle gevegsposisies ingeneem en gereedgemaak vir die geveg teen Benjamin.

21. Benjamin se soldate het egter by die stad uitgestorm en voor die einde van die dag het hulle 22 000 Israelitiese soldate doodgemaak.

22-23. Die Israeliete het toe teruggegaan Bet-El toe, waar hulle voor die Here gekla en gehuil het tot laat die aand. Toe vra hulle vir die Here: “Moet ons weer teen ons broers gaan oorlog maak?”“Ja, gaan veg teen hulle,” het die Here geantwoord. Hierdie antwoord het hulle weer moed laat skep en hulle is terug stad toe, waar hulle weer die soldate in dieselfde posisies as die vorige dag ontplooi het.