Die Boodskap

Psalms 9:8-21 Die Boodskap (DB)

8. Die Here regeer vir altyd oor almal. Hy regeer as die regverdige Een.Hy neem altyd die regte besluite.

9. Omdat Hy al die feite het, sal Hy die regte vonnis oor al die volke vel.

10. Die Here beskerm elkeen wat swaarkry.In die grootste nood kan hulle by Hom skuil.

11. Almal wat U ken, vertrou op U.U laat mense wat U soek en van U afhanklik is, nooit in die steek nie.

12. Julle wat die Here dien, kom sing lofliedere om Hom te eer.Hy woon in Jerusalem. Praat onder al die volke oor dit wat Hy doen.

13. Hy gee om vir mense wat onskuldig ly.Hy help elkeen wat in die nood is.Wanneer hulle sy hulp vra, sal Hy hulle nie ignoreer nie.

14. Here, wees goed vir my. Maak u hart vir my oop.Help my wanneer hulle wat my haat, my wil doodmaak.Dis net U wat kan sorg dat ek nie doodgaan nie.

15. Help my asseblief, Here, sodat ek oor u wonderlike dade kan praat.Almal moet daarvan weet.By u woonplek sal ek vertel dat U my gered het. En ek sal bly wees.

16. Mense wat U nie ken nie, sal self tweede kom terwyl hulle ander tot ’n val probeer bring. Hulle word die prooi van hulle eie bose planne.

17. Die Here het vir alle mense gewys wie Hy regtig is. Hy straf verkeerde dade.Mense wat Hom nie dien nie, moet weet dat hulle deur hulle eie geknoei tot ’n val sal kom.

18. Almal wat nie die Here dien nie, se uiteinde is die dood. So ook die volke wat vergeet dat Hy God is. Maar die Here vergeet nooit om elkeen wat sy hulp vra, by te staan nie.

19. As jy hulp nodig het, kan jy maar net jou hoop op die Here stel.Hy sal jou nooit teleurstel nie.

20. Gryp nou in, Here!Anders dink party mense dat hulle baie sterk is.Maak almal bymekaar wat U nie dien nie.Wees ’n regverdige regter. Oordeel hulle!

21. Here, laat hulle bang word. Laat die volke besef dat hulle maar net swak mense is!