Die Boodskap

Psalms 9:2-12 Die Boodskap (DB)

2. Met alles binne-in my wil ek vir die Here dankie sê! Ek wil praat oor die wonderlike dinge wat U gedoen het.

3. Ek is bly oor U! Ek juig oor wat U gedoen het.Allerhoogste God, ek sal liedere sing om U te eer.

4. Mense wat niks van my hou nie, pla my nie meer nie.U het hulle tot ’n val gebring. Hulle het voor U vergaan.

5. Maar U het my reg behandel. Soos ’n goeie regter het U my saak goed hanteer. U het ’n regverdige uitspraak gegee.

6. U het daardie spul wat U nie ken nie, ernstig gewaarsku.U het ’n einde gemaak aan hulle wat U nie dien nie. U het hulle name van die aarde afgevee.

7. Niemand sal ooit weer oor hulle dink of praat nie.U het selfs die plekke waar hulle gebly het, van die aarde afgevee.Mense sal nooit weer daaraan dink nie.

8. Die Here regeer vir altyd oor almal. Hy regeer as die regverdige Een.Hy neem altyd die regte besluite.

9. Omdat Hy al die feite het, sal Hy die regte vonnis oor al die volke vel.

10. Die Here beskerm elkeen wat swaarkry.In die grootste nood kan hulle by Hom skuil.

11. Almal wat U ken, vertrou op U.U laat mense wat U soek en van U afhanklik is, nooit in die steek nie.

12. Julle wat die Here dien, kom sing lofliedere om Hom te eer.Hy woon in Jerusalem. Praat onder al die volke oor dit wat Hy doen.