Die Boodskap

Psalms 49:9-18 Die Boodskap (DB)

9. ’n Mens se lewe is baie meer werd as geld. Niemand kan genoeg geld hê om vir sy lewe te betaal nie.

10. Geld kan jou nie uit die kloue van die dood red nie. Jy kan nie die ewige lewe koop nie.

11. Almal weet dit tog: slim mense én dwase mense gaan uiteindelik dood.Alles wat hulle bymekaargemaak het, bly hier agter.

12. Hulle nuwe adres: die dood! Daar trek hulle nooit weer weg nie.Niemand leef vir altyd nie, al het so ’n mens ook baie eiendom besit.

13. Nie eens die grootste rykdom verseker ’n lang lewe nie.Op die ou end gaan ons almal dood, net soos die diere in die veld.

14. Die dood wag vir mense wat op hulleself vertrou, vir mense wat baie van hulleself dink.

15. Soos ’n klomp skape storm hulle agter die dood aan. Die dood pas hulle op.In die doderyk verdwyn hulle binne ’n sekonde.Al wat van hulle oorbly, is ’n verlate grafsteen êrens in ’n begraafplaas. Niks bly oor van alles waarop hulle vertrou het nie.

16. Ek glo dat God my nooit in die kloue van die dood sal laat beland nie.Hy sal my daar uithaal en reguit na Hom toe vat.

17. Hoekom dan bekommerd wees oor ryk mense, as hulle al meer kry?

18. Al hulle geld bly hier agter as hulle die dag doodgaan. Hulle vat niks saam nie.