Die Boodskap

Psalms 45:5-17 Die Boodskap (DB)

5. Ry uit as oorwinnaar. U veg mos vir wat waar is.Om armes te help en reg op te tree lê u na aan die hart.Ja, u doen magtige dinge.

6. U tref die kol keer op keer; u vyande het nie ’n kans nie.

7. U goddelike koninkryk sal vir altyd daar wees.U regeer regverdig.

8. U hou van wat reg is en haat wat verkeerd is.Daarom het God, u God, u bo almal gekies en as koning aangestel, en almal was baie bly daaroor.

9. U klere ruik wonderlik lekker.In u paleis van ivoor luister u na mooi musiek. Dit maak u bly.

10. Prinsesse omring u en langs u staan die koningin met pragtige goue juwele.

11. Luister, o dogter, as die koning van jou hou; los jou familie en kom na hom toe.

12. Die koning vra na jou omdat jy vir hom mooi is. Eer hom. Hy is mos ook jou koning. Jy behoort aan hom.

13. Dogter van Tirus, die rykstes sal vir jou goed wil wees. Hulle sal vir jou geskenke gee.

14. Die prinses lyk asemrowend. Sy wag daarbinne in die mooiste klere.

15. Sy word na die koning toe gevat. Haar vriendinne loop saam met haar.

16. Hulle is uitbundig van vreugde. So stap hulle die paleis binne.

17. Mag u seuns hê om oor die hele land te heers soos hulle voorvaders gedoen het. Mag hulle ook as regeerders aangestel word.