Die Boodskap

Psalms 22:20-29 Die Boodskap (DB)

20. U moet my tog nie alleen los nie, Here!U alleen gee my krag.Kom help my baie gou!

21. Keer asseblief sodat ek nie doodgaan nie.Ek het net een lewe.Moenie dat daardie wrede klomp honde dit van my af wegvat nie.

22. Red my uit die kloue van daardie leeus wat my wil opeet.Hulle is so gevaarlik soos ’n gewonde buffel.

23. U het my uit my nood gered!In die kerk sal ek tussen u kinders daaroor praat. Voor die gemeente sal ek U loof en prys. Ek sal U voor almal prys.

24. Julle wat aan Hom behoort, kom bring eer aan Hom! Kinders van die Here, kom wys dat julle vir Hom respek het!

25. Kom prys Hom, want Hy draai nie sy rug vir hulle wat sy hulp nodig het nie.Hy help hulle as hulle smeek dat Hy iets aan hulle nood moet doen. Hy luister as hulle na Hom roep.

26. Daar waar baie mense bymekaarkom, sal ek ’n loflied oor die Here sing.Almal moet dit hoor.Wat ek aan Hom belowe het, sal ek nakom.Ek sal dit doen voor almal wat Hom dien.

27. Vir mense wat die Here dien, sal Hy baie goed wees.Hulle sal al die goeie dinge geniet wat Hy vir hulle gee.Mense wat sy hulp vra, sal Hom kom prys.Ek wens dat julle lewe van blydskap sal oorloop.Dan sal julle voluit leef en elke dag geniet, en lank lewe.

28. Tot op die verste plek op aarde sal mense sien hoe goed die Here is.Hulle sal hulle lewe vir Hom gee.Mense wat Hom nie geken het nie, sal Hom dien.Oud en jonk sal na Hom toe kom. Hulle sal voor Hom buig.

29. Die Here is die sterkste van almal. Hy heers oor al die volke hier op aarde.