Die Boodskap

Prediker 8:9-17 Die Boodskap (DB)

9. Toe ek oor alles in die lewe nagedink het, het ek besef sommige het baie mag en sommige nie. Dié wat nie mag het nie, moet altyd ly onder dié wat mag het.

10. Ek het gesien hoe slegte mense begrawe word en hoe mense hulle prys, terwyl goeie mense uit hulle stad moet vlug en vergeet word. Dit wys net hoe sinloos en deurmekaar die lewe is.

11. Mense doen maklik verkeerde dinge omdat dit lank vat voordat die skuldiges gestraf word.

12. ’n Slegte mens kan selfs 100 misdade pleeg en nog steeds lank leef. Die mense sê mos altyd: “As jy vir God bang is, sal dit met jou goed gaan.

13. Slegte mense wat God nie dien nie, sal net teëspoed ervaar. Hulle lewe is soos ’n skaduwee en hulle lewensjare min.”

14. Dit is egter verkeerd. Net die teenoorgestelde gebeur. Met goeie mense sal dit sleg gaan en met slegte mense goed. Dit wys net weer hoe absurd die lewe eintlik is.

15. Ek het daarom besluit dat wat die mens eintlik nodig het, vreugde is. Niks is beter as om te eet en te drink en die lewe te geniet nie. Dít kan die mens help om die sinloosheid te verwerk van hierdie lewe wat God ons gegee het.

16. Ek het dag en nag gewerk om die lewe en die dinge wat in die wêreld gebeur, te probeer begryp.

17. Uiteindelik moes ek opgee, want die mens kan nooit God se werk deurgrond nie. Al probeer hy hoe hard, sal hy die sin van die lewe nooit kan ontsluit nie.