Die Boodskap

Prediker 7:1-8 Die Boodskap (DB)

1. ’n Goeie naam is beter as lekkerruikgoed, en die sterfdag beter as die geboortedag.

2. Dit is beter om na ’n plek van rou te gaan as na ’n plek waar mense partytjie hou. Elkeen se sterfdag wag vir hom. Daarmee moet die mens rekening hou.

3. Hartseer is beter as om te lag. Agter ’n strak gesig skuil soms ’n diep insig in die lewe.

4. Iemand wat net geluk najaag, is dwaas. ’n Wyse weet geluk is onmoontlik. Daarom dink hy baie aan die einde.

5. Dit is beter dat wyse mense jou kritiseer as dat dommes heeltyd jou lof besing.

6. Soos die knetterklanke van brandhout in ’n vuur, so klink die gelag van ’n dwaas. Dit is sinloos en irriteer ’n mens net.

7. Iemand wat dink hy is wys, maar ander afpers, is dwaas. En ’n omkoopgeskenk kan jou vernietig.

8. Die einde van ’n saak is baie beter as die begin. En geduld is beter as om vol van jouself te wees.