Die Boodskap

Prediker 3:7-16 Die Boodskap (DB)

7. daar is ’n tyd om iets te skeur en ’n tyd om dit heel te maak;daar is ’n tyd om te praat en ’n tyd om stil te bly; •

8. daar is ’n tyd vir liefhê en ’n tyd vir haat;’n tyd vir oorlog en ’n tyd vir vrede.

9. Watter voordeel kry ’n mens dan op die ou end uit al sy harde werk?

10. God het vir mense ’n baie moeilike werk gegee. Hulle moes probeer om God se werk te verstaan.

11. God het alles mooi en op die regte tyd gemaak. Toe het Hy die mense iets laat verstaan van hoe sy soort tyd werk, maar die mense kon niks daarvan verstaan nie. Absoluut niks nie.

12. Toe het ek besef al wat die mens maar moet doen, is om gelukkig te wees en die lewe te geniet.

13. Om tussen al die harde werk deur nog te kan eet en drink en gelukkig te wees is ’n geskenk uit die hand van God.

14. Ek weet dat alles wat God doen, vir altyd sal bestaan. Niemand sal iets daarby voeg of iets daarvan wegneem nie omdat God te groot en te sterk is.

15. Wat nou bestaan, het vroeër ook reeds bestaan. En wat nog gaan kom, was alreeds daar. God laat dieselfde dinge weer en weer gebeur.

16. Ek het om my rondgekyk. Toe sien ek: waar die regte dinge moes gebeur, was daar net onreg. Niemand het gedoen wat God vra nie.