Die Boodskap

Openbaring 8:4-11 Die Boodskap (DB)

4. Die heerlikste geur van die wierook het saam met die gebede van God se mense die ruimte by God gevul. Dit het uit die mengsel gekom wat die engel met sy hande gemaak het.

5. Die engel maak toe die bak vol met brandende kole van die altaar af. Hy keer dit toe op die aarde om met merkwaardige gevolg. Blitse het geslaan, die donder het gedreun, mense het geskree en die aarde het gebewe.

6. Nadat die sewe engele hulle trompette reggekry het,

7. het die eerste een op sy trompet geblaas. ’n Reënbui van hael en vuur, gemeng met bloed, het losgebars. Vure het oral uitgebreek. In die woeste brand is ’n derde van die aarde afgebrand. Daar het nie ’n grashalmpie oorgebly nie en ’n derde van die woude het in die slag gebly.

8. Toe blaas die tweede engel op sy trompet. Ek het ’n groot berg vlamme gesien. Dit is in die see gegooi. Dit was vernietigend.

9. ’n Derde van die see het in bloed verander. Dit is nie al nie. ’n Derde van die seediere het ook gevrek en ’n derde van die skepe het gesink.

10. Die derde engel blaas toe op sy trompet. Daarna val ’n groot ster van bo af. Dit het soos ’n fakkel gebrand.

11. Die ster, met die naam “Bitterheid”, val toe reg op ’n derde van die riviere en op die fonteine. ’n Derde van die water het so bitter soos gal geword. Baie mense is van die giftige water dood.