Die Boodskap

Openbaring 2:2-10 Die Boodskap (DB)

2. Ek weet wat julle doen. Ek sien hoe julle alles ter wille van die evangelie doen en weier om moed op te gee. Ek sien dat julle slegte mense nie voor julle oë kan verdra nie. Julle glo ook nie sommer enige Jan Rap en sy maat wat voorgee dat hy God se boodskap preek nie. Ek weet julle het al ’n klomp van hulle vasgetrek wat voorgegee het om “groot predikers” te wees, maar van die kansel af staan en lieg. Mooi so! Ek herhaal: Ek kyk julle sterk eienskappe nie mis nie.

3. Ek sien hoe julle vasbyt wanneer dit swaar gaan. Julle hou maar net aan en aan, omdat julle dit graag vir My wil doen. Julle word nie moeg daarvan nie.

4. Maar daar is een ding wat My baie ongelukkig maak en wat Ek nie kan oorsien nie. Julle is nie meer so lojaal en liefdevol teenoor My soos julle eers was nie.

5. Dink mooi hoe julle eers was en hoe julle nou is. Julle het darem ver geval! Verander weer julle gesindheid en optrede. Begin weer leef soos julle eers geleef het. Doen wat Ek graag wil hê julle moet doen. As julle nie wil verander nie, maar bly leef soos julle nou leef, het Ek slegte nuus vir julle. Julle gemeente sal ophou bestaan. Ek self sal julle gemeentekandelaar tussen die ander wegvat.

6. Ek sê nie julle het niks wat in julle guns tel nie. Julle haat mos die dinge wat die Nikolaïete doen. Ek hou ook niks van hierdie klomp vals mense nie.

7. Spits julle ore! Luister na die boodskap van die Heilige Gees. Dit is vir julle, die gelowiges, bedoel. Wie nie langs die pad uitval nie, maar enduit volhou, sal Ek beloon. Hy sal mag eet van die “boom van die lewe” wat in God se tuin, die paradys, staan. As iemand eers van hierdie boom se vrugte geëet het, sal hy nooit doodgaan nie.

8. Skryf aan die leier van die gemeente in Smirna die volgende: Dit is die Een wat voor alles in die skepping daar was en wat nog daar sal wees wanneer alles verby is, wat met julle praat. Dit is Ek, Jesus, wat dood was en weer lewendig geword het.

9. Ek weet hoe swaar julle kry. Ek sien hoe arm julle is. Onthou, julle is wel nie ryk hier op aarde nie, maar op ’n ander manier is julle ryk. Ek hoor hoe sleg daardie Jode julle maak. Hulle sleep julle naam deur die modder. Maar moenie te sleg voel daaroor nie. In God se oë is hulle nie meer sy mense nie. Hulle kom bymekaar in die huis van Satan.

10. Moenie tou opgooi as mense julle op die pad vorentoe seermaak en terroriseer nie. Luister, die duiwel gaan sorg dat party van julle in die tronk beland. ’n Tyd lank sal julle regtig swaarkry. God sal egter sorg dat dit nie te lank duur nie. Sien dit as ’n toets vir julle geloof en lojaliteit teenoor My, al maak hulle julle dood. Moenie ophou nie, maar hou vol tot by die wenpaal. Daar sal Ek self vir julle die prys gee wat wenners behoort te kry: die lewe wat nooit sal ophou nie.