Die Boodskap

Maleagi 2:1-6 Die Boodskap (DB)

1. Die volgende stukkie advies van die Here, die Grootkoning, is vir julle bedoel, priesters.

2. Julle optrede moet bewys dat julle My eer en respekteer. As julle nie wil luister nie, gaan Ek dit baie moeilik maak vir julle. Ek gaan al julle voordele wegvat wat vir julle so belangrik is. As julle mooi gaan kyk, sal julle agterkom dat Ek dit alreeds begin doen het omdat julle nie luister na wat Ek vir julle sê nie.

3. Julle sal nie kinders hê wat julle naam kan laat voortleef nie. Ek sal julle nog verder in die verleentheid bring deur die mis van die offers in julle gesigte te laat spat. In plaas daarvan dat julle met respek behandel word, sal die mense hulle neuse vir julle optrek asof julle soos vuilgoed op die ashoop ruik.

4. Dan sal julle dalk verstaan dat dit Ek is, die God wat nooit op sy woord teruggaan nie, wat vir julle hierdie waarskuwing gestuur het sodat die ooreenkoms wat Ek met Levi gemaak het, kan voortgaan.

5. In hierdie ooreenkoms het Ek belowe dat Ek hom lank sal laat lewe en dat Ek elke dag sal toesien dat hy versorg is en niks nodig het nie sodat hy sy werk vir My rustig en sonder bekommernis kan doen. Van my kant af het Ek die ooreenkoms nagekom en hy het respek en eer aan My bewys.

6. Wat hy die mense geleer het, was die waarheid, want hy het dit by My gehoor. Omdat hy nie bang was om die waarheid reguit te praat nie, het dit baie mense laat besluit om My te dien en nie meer sonde te doen nie.