Die Boodskap

Levitikus 7:24-37 Die Boodskap (DB)

24. Die vet van ’n dier wat vanself doodgegaan het, of deur roofdiere verskeur is, kan wel vir ander dinge gebruik word, maar julle mag dit nie eet nie.

25. Enigiemand wat die vet eet van ’n dier wat vir die Here geoffer is, moet uit sy volk weggejaag word.

26. Waar julle ook al woon, julle mag nooit voëls of diere se bloed drink nie.

27. Enige persoon wat sulke bloed drink, sal uit die volk verwyder word.”

28. Die Here het nog verder deur Moses

29. die volgende opdrag aan die Israeliete gegee: “’n Persoon kan vir die Here ’n offer bring om sy goeie gesindheid teenoor die Here te bewys. Hy moet dan die deel daarvan wat vir die Here gegee word,

30. in sy hand vat en dit nader bring sodat dit vir die Here verbrand kan word. Hy bring die vet van die dier se bors en die bors self en hou dit na die Here uit.

31. Die dienaar by die tent verbrand dan die vet op die altaar. Die bors self gaan na Aäron en sy mense toe.

32. Julle moet die regterblad van die dier wat julle vir die Here offer om julle goeie gesindheid teenoor Hom te bewys as ’n spesiale porsie aan die dienaar afstaan.

33. Die regterblad van die dier behoort uitsluitlik aan die dienaars uit Aäron se familie wat die bloed en die vet van die offer by die altaar hanteer.

34. Ek het die bors wat vir My geoffer word en die blad wat aan My opgedra word, by die Israeliete weggevat uit die deel van die offers wat hulle mag eet, en Ek het dit uitsluitlik vir die dienaars uit Aäron se familie en hulle gesinne gegee. Dit is ’n reël vir die Israeliete wat nooit verander mag word nie.

35. “Dit is die gedeelte van die offers vir die Here wat op die altaar verbrand word, wat aan Aäron en sy seuns behoort van die dag dat die Here hulle aangestel het om sy dienaars by die tent van ontmoeting te wees.

36. Dit is ook die gedeelte van die offer wat die Here beveel het hulle moet kry van die dag dat Hy hulle uit die Israeliete gekies en laat aanstel het om Hom te dien. Dit is ’n reël wat altyd vas sal staan tot in die verre toekoms.”

37. So moet dan gemaak word met die offer wat heeltemal verbrand word, met die offer wat uit die graan uit kom, die offer wat vir die sonde gebring word, die offer wat gebring word om vir die skuld van die oortreding reg te maak, die offers wat gebring word as iemand as dienaar aangestel word by die tent van ontmoeting, en met die offers wat mense bring om hulle positiewe gesindheid teenoor die Here te wys.