Die Boodskap

Levitikus 7:14-31 Die Boodskap (DB)

14. Hy vat van elkeen van hierdie verskillende soorte brood en bied dit vir die Here as ’n buitengewone offer aan. Die dienaar wat dit na die altaar vat, mag self ook daarvan eet.

15. “Die vleis van die offer waarmee iemand kom dankie sê, moet op dieselfde dag waarop die offer gebring word, opgeëet word. Daar mag niks daarvan oorbly tot die volgende oggend nie.

16. As iemand ’n offer vir die Here bring om ’n belofte na te kom, of sommer net vrywillig iets vir die Here offer, moet dit nog dieselfde dag geëet word. As daar wel iets oorbly, mag dit egter nog op die volgende dag geëet word.

17. Die vleis wat op die derde dag nog oor is, moet egter heeltemal verbrand word.

18. As daar wel nog van die vleis van die offer oorbly op die derde dag en dan geëet word, sal dit nie meer deurgaan as ’n offer vir die Here nie. Dit sal nie langer by die Here in daardie persoon se guns tel nie. Dit sal as slegte vleis gesien word. Iemand wat ook nog daarvan eet, oortree teen die bevele van die Here.

19. Vleis wat in aanraking kom met enigiets anders wat as onwenslik en vuil beskou word, mag nie geëet word nie. Dit moet met vuur verbrand word. Elkeen wat aan die Here se voorskrifte voldoen en aan Hom toegewyd is, mag van die vleis van die offer eet.

20. Elkeen wat nie aan die Here behoort nie en van die vleis van die altaar eet wat as ’n offer vir die Here gebring is, moet uit die volk weggejaag word.

21. Iemand wat aan enigiets gevat het wat die Here as vuil beskou, of dit ’n mens of ’n dier is, en dan van die vleis van die altaar eet wat as ’n offer vir die Here gebring is, moet uit die gemeenskap verstoot word.”

22. Die Here het nog verder deur Moses

23. die mense van Israel beveel: “Sê vir die Israeliete: Julle mag nie beeste, skape of bokke se vet eet nie.

24. Die vet van ’n dier wat vanself doodgegaan het, of deur roofdiere verskeur is, kan wel vir ander dinge gebruik word, maar julle mag dit nie eet nie.

25. Enigiemand wat die vet eet van ’n dier wat vir die Here geoffer is, moet uit sy volk weggejaag word.

26. Waar julle ook al woon, julle mag nooit voëls of diere se bloed drink nie.

27. Enige persoon wat sulke bloed drink, sal uit die volk verwyder word.”

28. Die Here het nog verder deur Moses

29. die volgende opdrag aan die Israeliete gegee: “’n Persoon kan vir die Here ’n offer bring om sy goeie gesindheid teenoor die Here te bewys. Hy moet dan die deel daarvan wat vir die Here gegee word,

30. in sy hand vat en dit nader bring sodat dit vir die Here verbrand kan word. Hy bring die vet van die dier se bors en die bors self en hou dit na die Here uit.

31. Die dienaar by die tent verbrand dan die vet op die altaar. Die bors self gaan na Aäron en sy mense toe.