Die Boodskap

Levitikus 7:1-10 Die Boodskap (DB)

1. Hier volg nog reëls vir die offer wat vir die Here gebring word om vir die skuld te betaal: “Hierdie offer behoort uitsluitlik aan die Here.

2. Die dienaars by die tent moet hierdie offer op presies dieselfde plek slag waar hulle ook die offers slag wat verbrand word. Die bloed word reg rondom teen die altaar gespat.

3. Die dienaar moet ook al die vet van die dier op die altaar offer, dit wil sê, ook die vetstert, die vet aan die binnegoed,

4. die twee niere met die vet daaraan by die kruis en die lewer wat saam met die niertjies verwyder is.

5. Hy moet dit alles op die altaar verbrand as ’n offer wat vir die Here verbrand word. Hierdie offer betaal vir die oortreding wat begaan is.

6. Al die manlike werkers by die tent mag ook daarvan eet. Hulle moet dit egter op ’n plek gaan eet wat daarvoor eenkant gesit is, omdat dit uitsluitlik vir die diens van die Here afgesonder is.

7. “Dieselfde reël as vir die offer wat vir die sondeskuld gebring word, geld ook vir die offer wat vir die sonde gebring word: die dienaar wat die offer bring om vir die sonde te betaal mag die vleis daarvan eet.

8. Die werker wat die offer op die altaar verbrand, mag die vel van die dier vir homself hou.

9. Enige offer wat van graan gebring word en wat in ’n oond gebak is of in ’n braaipan gebraai of op ’n rooster gaargemaak is, behoort ook aan die dienaar wat dit geoffer het.

10. Al die ander graanoffers, of dit nou met olie gemeng is of nie, behoort egter aan al die dienaars uit Aäron se familie.”