Die Boodskap

Levitikus 14:6-21 Die Boodskap (DB)

6. Hy vat dan die ander voël en sit dit by die sederhout, die rooi garing en die hisoptakkie, en doop dit in die bloed van die eerste voël wat hy oor die bakkie met vars water geslag het.

7. Hy spat dit dan sewe keer teen die persoon wat terugkom sodat hy terugontvang kan word. Hy laat die voël wat bly leef, in die veld los dat dit kan wegvlieg.

8. Die persoon wat terugkom, moet dan sy klere gaan was, al sy hare afskeer en self ook bad. Hy is dan weer aanvaarbaar en hy kan terugkom in die kamp by sy mense. Hy moet egter eers nog vir die volgende sewe dae buite sy tent bly.

9. Op die sewende dag moet hy weer al sy hare afskeer. Hy moet al die hare op sy kop, sy baard, sy wenkbroue en al die hare op sy lyf alles afskeer. Hy moet dan weer sy klere en homself gaan was. Daarna kan hy weer tussen die ander mense woon.

10. “Op die agtste dag moet hy twee gesonde rammetjies en een jaaroud ooitjie vat waaraan daar niks is wat gebreklik is nie. Hy bring ook by die tent waar Hy aanbid word vir die Here ’n offer uit gemaalde graan van vyf kilogram meel wat met olie en een sesde liter olyfolie gemeng is.

11. Die werker by die tent laat dan die man wat teruggekom het, saam met sy offer voor die Here by die ingang van die tent staan.

12. Die dienaar vat een van die rammetjies en die olyfolie, en bring dit na die altaar om dit aan die Here op te dra as ’n offer vir die man se skuld by God.

13. Hy slag die rammetjie op dieselfde plek waar die ander offers vir die sonde verbrand word. Die dienaar mag self ook van hierdie offer eet, net soos hy ook ’n deel van die offer vir die sonde mag eet. Dit is vir God en sy dienaars by die altaar bedoel.

14. “Die dienaar vat die bloed van die rammetjie wat hy geslag het en smeer daarvan aan die persoon wat teruggekom het se regteroorlel, aan sy regterduim en aan sy regtergroottoon.

15. Hy gooi dan van die olie in sy linkerpalm,

16. steek sy regtervinger daarin en sprinkel dit met sy vinger sewe keer voor die Here op die grond.

17. Van die olie wat in sy hand oor is, smeer hy bo-oor die bloed wat hy aan die man se regteroorlel, regterduim en regtergroottoon gesmeer het.

18. “Die olie wat in sy hand oor is, gooi hy op die persoon se kop uit. So verbind die dienaar weer die man met God en sy volk.

19. Daarna slag die dienaar ook die offer vir die sonde. Op hierdie manier kan iemand wat ’n velsiekte gehad het en wat hom van die ander mense moes onttrek, weer terugkom in die kamp nadat hy gesond geword het. Hy self slag dan die offer

20. wat die dienaar saam met die graan op die altaar moet verbrand. Die dienaar help hom op hierdie manier om weer deel te word van die mense in die kamp.

21. “As iemand te arm is vir twee rammetjies, hoef hy net een rammetjie te vat om te offer. Die offer uit die graan hoef ook net een tiende deel meel te wees wat met olie en een sesde liter olyfolie gemeng is.