Die Boodskap

Levitikus 14:33-48 Die Boodskap (DB)

33. Die Here het verder vir Moses en Aäron gesê:

34. “Ek gaan julle in die land Kanaän laat woon. Wanneer julle daar bly en Ek dit laat gebeur dat daar kolle teen die mure van julle huise uitslaan,

35. moet die eienaar van die huis vir God se dienaar gaan sê dat dit vir hom lyk of daar ’n plaag in sy huis is.

36. Die dienaar moet dan sê dat alles eers uit die huis uitgedra moet word voordat hy daarheen gaan om dit te bekyk. As hy dit nie dadelik laat doen nie, kan alles in die huis daarmee besmet raak. As dit gedoen is, kan hy gaan ondersoek instel in die huis.

37. As hy die kolle bekyk en sien dit is vaalgeel of rooierige mufkolle teen die muur wat lyk of dit in die pleister is,

38. moet hy dadelik by die deur uitgaan en die huis vir sewe dae lank toesluit.

39. Hy moet op die sewende dag weer kom kyk. As hy sien dat die mufkolle teen die mure verder versprei het,

40. moet hy opdrag gee dat al die stene waaraan dit sit, uit die mure uitgebreek moet word. Dit moet op die ashoop gegooi word wat spesiaal daarvoor buite die dorp uitgehou is.

41. Al die pleister moet van die huis se mure afgekrap word en op dieselfde plek buite die dorp weggegooi word.

42. Ander stene moet in die plek van die ander ingemessel word en die huis se mure moet weer gepleister word.

43. As daar daarna weer mufkolle uitslaan en begin versprei,

44. moet hy weer kom inspeksie hou. As dit nog verder versprei het, is daar gevaarlike skimmel in daardie huis. Die huis kan nie verder gebruik word nie.

45. Die hele huis moet afgebreek word. Die stene, die skrynwerk en al die pleister van die huis moet buitekant die dorp op die ashoop wat daarvoor eenkant gehou is, weggegooi word.

46. Iemand wat miskien in die huis inkom terwyl dit gesluit is, mag vir die res van daardie dag nie naby God se blyplek kom nie.

47. Iemand wat in daardie huis gaan slaap of daar eet, sal eers sy klere moet gaan was.

48. “As die Here se dienaar weer kom inspeksie doen nadat die huis opnuut uitgepleister is, en hy sien dat daar nie meer mufkolle is nie, moet hy die mense toelaat om terug te trek in die huis in.