Die Boodskap

Levitikus 11:9-22 Die Boodskap (DB)

9. “Van al die diere wat in die water leef, in die see en in die riviere, mag julle net dié eet wat vinne en skubbe het.

10. Enige dier in die see of in die riviere wat nie vinne of skubbe het nie, moet julle vermy.

11. Ek belet julle om hulle te eet. Julle moet ook hulle dooie liggame vermy.

12. Alles in die water wat nie vinne en skubbe het nie, moet vir julle iets wees wat julle afskrik.

13. “Van die voëls in die lug wat verbied word, waarvan julle nie mag eet nie, is daar die arend, die lammervanger, die visarend,

14. die aasvoël, al die valkspesies,

15. al die kraaispesies,

16. die volstruis, die naguil, die seemeeu, al die arendspesies,

17. die uil, die visvanger, die ibis,

18. die flamink, die pelikaan, die swaan,

19. die ooievaar, al die reierspesies, die hoep-hoep en die vlermuis.

20. “Enige ding wat vlerke het en in swerms beweeg of wat kruip, mag julle nie eet nie.

21. Dié wat pote het en daarmee kan spring, mag julle egter wel eet.

22. Julle mag van hulle die treksprinkaan, veldsprinkaan, langasemsprinkaan en voetgangersprinkaan eet.