Die Boodskap

Kolossense 3:3-17 Die Boodskap (DB)

3. Onthou, julle waardes het verander toe julle Christene geword het. Julle ou belangstellings en lewenstyl is dood en begrawe. Julle het ’n nuwe lewe gekry. Dit waarborg God vir julle.

4. Christus gee julle daardie nuwe lewe. Wanneer Christus eendag weer kom, sal julle almal by Hom kan gaan staan as mense wat Hy lewend gemaak het. Almal sal julle saam met Hom sien. Dan sal hulle ook sien hoe belangrik julle regtig vir God is.

5. Moenie toelaat dat dinge waarvan Jesus nie hou nie, enige rol in julle lewe begin speel nie. Raak daarvan ontslae sodra dit in jou lewe kop uitsteek. Ek praat van dinge soos ontoelaatbare seks of vuil gedagtes wat op vieslike optrede uitloop. Om sulke dinge net te loop en begeer is al verkeerd. En dan is daar mense wat nooit genoeg kan kry nie. Hoe meer hulle het, hoe meer wil hulle hê. Asof dit hulle god is, wy hulle al hulle tyd en energie daaraan om net al hoe meer in die hande te probeer kry.

6. Hierdie soort dinge maak dat God mense straf. Hulle steur hulle mos nie aan wat God wil hê nie.

7. Julle weet goed waarvan ek praat. Julle het self vroeër so geleef.

8. Maar daardie tyd is nou vir julle verby. Dit beteken natuurlik dat al die lelike dinge waarvan God nie hou nie, ook vir julle iets van die verlede moet wees. Sal ek vir julle ’n paar opnoem? Dink maar aan ’n slegte humeur of om oor alles te wil baklei. Om ’n wrok te dra doen ook niemand goed nie. Moenie God in die skande steek deur die manier waarop jy praat nie. Moenie vloek nie; nee, selfs al laat jou woorde mense net ongemaklik voel, moet jy dit nie eens gebruik nie. Praat die waarheid met mekaar.

9. Moenie lieg nie. Julle is eintlik soos iemand wat sy ou klere uitgetrek en nuwe klere aangetrek het. Die ou klere is julle slegte ou gewoontes en die verkeerde manier waarop julle geleef het. Daarvan moet julle ontslae raak soos van ou klere.

10. God het egter vir julle ook ’n nuwe stel klere gegee. Hierdie klere maak julle heeltemal nuut. Dit bring julle al hoe nader aan God. Julle leer Hom al hoe beter ken. Hoe beter julle Hom leer ken, hoe meer word julle soos Hy. So kom julle al hoe nader aan die doel waarvoor God julle gemaak het. God het ons gemaak om almal soos Christus te wees. Hy wil nie hê mense moet met mekaar vassit omdat hulle nie dieselfde lyk of nie dieselfde taal praat nie.

11. Dit maak nie vir Hom saak of iemand nog altyd ’n kerklidmaat was en of hy eers laat in sy lewe ’n Christen geword het nie. Hy vra nie of iemand kan lees of skryf of waar hy vandaan kom nie. Nog minder vra Hy hoe belangrik iemand in die gemeenskap is en of hy ’n goeie werk het of nie. Al wat God vra, is of Christus in iemand se lewe is. Want al wat regtig in die lewe tel, is net Christus.

12. God het julle gekies. Julle is sy spesiale mense in die wêreld. Hy is baie lief vir julle. Daarom moet julle die “klere” aantrek wat by julle pas. Jy moet baie vir ander mense omgee en gaaf met hulle wees. Wees op jou plek en moenie te veel van jouself dink nie. Moet ook nie ongeskik met mense wees nie, maar hanteer hulle mooi.

13. Gee mekaar ’n kans sonder om mekaar met kritiek uitmekaar te skeur. Kyk ook by mekaar se foute verby. Die Here het immers by al julle foute verbygekyk. Daarom word niks minder van julle verwag nie.

14. Tussen die klere wat God vir julle gegee het, is daar ’n kledingstuk wat alles perfek afrond. Jy moet dit altyd en oral dra. Hierdie kledingstuk is die liefde. As julle mekaar liefhet, leef julle presies soos God dit wil hê. Liefde hou julle naby mekaar soos julle veronderstel is om te wees.

15. Dit moet ook vir julle baie belangrik wees om die vrede wat Christus vir julle gegee het, tot elke prys te bewaar. As julle met mekaar begin vassit, maak juis dan die keuse vir die vrede van Christus. Om die vrede te bewaar is belangrik, want God verwag van julle om soos een liggaam saam te werk. Hy wil geen dwarstrekkery hê nie. En moenie vergeet om altyd vir God dankie te sê vir al hierdie dinge nie.

16. Jesus se boodskap moet in julle lewe wees wat ’n bouplan vir ’n bouer is. Dit moet die plan wees vir alles wat julle doen. Daarom moet julle nie tevrede wees voordat julle alles weet wat Jesus vir julle wil sê nie. Leer mekaar wat reg en verkeerd is. As iemand ’n fout maak, help hom reg. Gebruik ook psalms en ander liedere om dit te doen. Sing uit julle hart uit, want met hierdie geestelike liedere sê julle ook vir God dankie.

17. Laat ek saamvat: Jesus moet uit julle hele lewe straal. Of julle praat of iets anders doen, Jesus moet daarin gesien kan word. Julle lewe moet een groot dankie vir God wees. En dit kan alleen so wees as julle alles doen asof Jesus elke tree saam met julle gee.