Die Boodskap

Kolossense 3:1-12 Die Boodskap (DB)

1. Onthou dit altyd: toe julle Christene geword het, het julle saam met Christus ’n nuwe lewe gekry. Tree asseblief nou op soos mense wat saam en vir die Here leef. Julle moet al meer so leef dat Jesus daarmee tevrede sal wees. Onthou, Hy is die Een met die mag. Hy sit op die oomblik op die ereplek langs God self in die hemel.

2. Moenie toelaat dat dinge wat nie vir Jesus belangrik is nie, vir julle te belangrik word nie. Ek praat van tydelike, aardse dinge waarmee julle julle partymaal so kan besig hou. Bestee liewer al julle tyd aan dinge wat vir Jesus belangrik is. Dink daaroor na, praat daaroor en doen dit!

3. Onthou, julle waardes het verander toe julle Christene geword het. Julle ou belangstellings en lewenstyl is dood en begrawe. Julle het ’n nuwe lewe gekry. Dit waarborg God vir julle.

4. Christus gee julle daardie nuwe lewe. Wanneer Christus eendag weer kom, sal julle almal by Hom kan gaan staan as mense wat Hy lewend gemaak het. Almal sal julle saam met Hom sien. Dan sal hulle ook sien hoe belangrik julle regtig vir God is.

5. Moenie toelaat dat dinge waarvan Jesus nie hou nie, enige rol in julle lewe begin speel nie. Raak daarvan ontslae sodra dit in jou lewe kop uitsteek. Ek praat van dinge soos ontoelaatbare seks of vuil gedagtes wat op vieslike optrede uitloop. Om sulke dinge net te loop en begeer is al verkeerd. En dan is daar mense wat nooit genoeg kan kry nie. Hoe meer hulle het, hoe meer wil hulle hê. Asof dit hulle god is, wy hulle al hulle tyd en energie daaraan om net al hoe meer in die hande te probeer kry.

6. Hierdie soort dinge maak dat God mense straf. Hulle steur hulle mos nie aan wat God wil hê nie.

7. Julle weet goed waarvan ek praat. Julle het self vroeër so geleef.

8. Maar daardie tyd is nou vir julle verby. Dit beteken natuurlik dat al die lelike dinge waarvan God nie hou nie, ook vir julle iets van die verlede moet wees. Sal ek vir julle ’n paar opnoem? Dink maar aan ’n slegte humeur of om oor alles te wil baklei. Om ’n wrok te dra doen ook niemand goed nie. Moenie God in die skande steek deur die manier waarop jy praat nie. Moenie vloek nie; nee, selfs al laat jou woorde mense net ongemaklik voel, moet jy dit nie eens gebruik nie. Praat die waarheid met mekaar.

9. Moenie lieg nie. Julle is eintlik soos iemand wat sy ou klere uitgetrek en nuwe klere aangetrek het. Die ou klere is julle slegte ou gewoontes en die verkeerde manier waarop julle geleef het. Daarvan moet julle ontslae raak soos van ou klere.

10. God het egter vir julle ook ’n nuwe stel klere gegee. Hierdie klere maak julle heeltemal nuut. Dit bring julle al hoe nader aan God. Julle leer Hom al hoe beter ken. Hoe beter julle Hom leer ken, hoe meer word julle soos Hy. So kom julle al hoe nader aan die doel waarvoor God julle gemaak het. God het ons gemaak om almal soos Christus te wees. Hy wil nie hê mense moet met mekaar vassit omdat hulle nie dieselfde lyk of nie dieselfde taal praat nie.

11. Dit maak nie vir Hom saak of iemand nog altyd ’n kerklidmaat was en of hy eers laat in sy lewe ’n Christen geword het nie. Hy vra nie of iemand kan lees of skryf of waar hy vandaan kom nie. Nog minder vra Hy hoe belangrik iemand in die gemeenskap is en of hy ’n goeie werk het of nie. Al wat God vra, is of Christus in iemand se lewe is. Want al wat regtig in die lewe tel, is net Christus.

12. God het julle gekies. Julle is sy spesiale mense in die wêreld. Hy is baie lief vir julle. Daarom moet julle die “klere” aantrek wat by julle pas. Jy moet baie vir ander mense omgee en gaaf met hulle wees. Wees op jou plek en moenie te veel van jouself dink nie. Moet ook nie ongeskik met mense wees nie, maar hanteer hulle mooi.