Die Boodskap

Kolossense 1:15-29 Die Boodskap (DB)

15. Ons kan God nie met ons oë sien nie. Sy Seun is egter die beeld van God. Deur na Hom te kyk sien ons wie en hoe God is. Niks in die skepping kan met Hom vergelyk word nie. Hoekom nie?

16. Net mooi alles, of dit nou in die hemel of op die aarde is, is deur Hom gemaak. Of jy dit kan sien of nie, of jy dink dit is sterk of nie, of jy daarvoor wil neerval en dit aanbid of nie, maak nie saak nie; alles is deur Hom gemaak. Alles wat gemaak is, moet daarna streef om Hom gelukkig te maak.

17. Voor enigiets anders gemaak is, was Hy mos al daar.

18. Boonop is Hy ook die Een wat sorg dat die heelal nie in duie stort nie.Die kerk kan met ’n liggaam vergelyk word. Die belangrikste deel, die kop van die liggaam, is God se Seun. By Hom het alles begin en Hy neem in alles die leiding. Hy het eerste uit die dood opgestaan.

19. God het mos self besluit om volledig by sy Seun te wees.

20. Hy het daarvoor gesorg dat alles in die skepping weer in die regte verhouding met Hom gestel word. Hy is mos die doel waarom alles geskep is. Dit het Hy gedoen deur die onderlinge verhoudings in die skepping weer reg te stel, of dit nou op die aarde of in die hemel is. Dit het nie sommerso gebeur nie. Dit was duur. Dit het Hom sy bloed gekos wat aan die kruis geloop het.

21. Julle onthou mos hoe julle voorheen op die verkeerde pad was. Julle was nie God se vriende nie; inteendeel, julle was sy vyande. Julle slegte gesindheid het veroorsaak dat julle net so sleg opgetree het.

22. Maar dinge het nou verander. Die Seun het vrede kom maak tussen God en julle. Juis daarom het hulle Hom liggaamlik doodgemaak. Sy doel was egter om so van julle iets besonders te maak. Hy wil dit so bewerk dat julle God heeltemal tevrede sal stel sodat daar niks in julle is waarvan God nie hou nie.

23. Julle moet egter net vas bly glo. Staan vas soos ’n huis op stewige fondamente, onbeweeglik soos ’n paal wat diep ingekap is. Moenie ’n duim afwyk van die evangelie waarvan julle so oortuig geraak het nie. Dit is die evangelie wat oor die hele wêreld aan mense verkondig word. Met al my tyd en energie werk ek, Paulus, vir hierdie evangelie.

24. Ek loop nie met ’n lang gesig rond oor al die swaarkry en lyding wat my oorgekom het nie. Inteendeel, ek is bly daaroor, want julle vind ook baat daarby. Julle weet hoe Christus vervolg is. Wel, hierdie vervolging teen Hom het nog glad nie opgehou nie. Ek self loop nog net so onder fisieke vervolging deur. Vir die kerk, die liggaam van Christus, doen ek dit.

25. Met alles wat ek het, werk ek vir die evangelie. God self het my daarvoor aangestel.

26. Op my skouers rus die verantwoordelikheid om die boodskap van God van begin tot end aan julle te verduidelik.

27. God het ’n geheim gehad. Baie eeue en geslagte lank het niemand geweet wat dit is nie. Maar die geheim is nou bekend. God het besluit om aan sy eie mense die geheim te vertel. Hulle weet nou hoe ongelooflik wonderlik hierdie geheim is, veral vir nie-Jode. Die geheim is dit: Christus is vir almal, ook vir julle. Op Hom kan julle met vertroue staatmaak. Hy sal vir julle die wonderlike dinge gee wat ’n mens net by God kan kry.

28. Die inhoud van ons verkondiging gaan juis oor Christus. Ons praat reguit met almal oor Hom en leer hulle alles wat hulle van God en hulleself af moet weet. Ek wil hê dat elke mens die goddelike doel in sy lewe moet bereik. Dit is alleen moontlik deur ’n intieme verhouding met Christus.

29. Daarvoor gee ek alles. Ek werk hard en doelgerig daarvoor soos iemand wat in ’n resies alles uithaal. Die krag om dit te doen kom van Jesus af.