Die Boodskap

Josua 7:5-14 Die Boodskap (DB)

5. Die soldate van Ai het hulle van die stadshekke af agtervolg tot by die steengroewe. Daar het hulle teen die afdraande omtrent 36 soldate doodgemaak. Dit het die volk se moed gebreek en hulle baie bang gemaak.

6. Josua en die leiers van die volk het hulle klere geskeur en met hulle gesig in die grond voor die verbondsark van die Here gaan lê. Hulle het tot die aand toe daar gelê met stof op hulle kop om hulle hartseer te wys.

7. Toe sê Josua: “Ag, Here, hoekom het U ons oor die Jordaan laat trek, net om ons in die mag van die Amoriete oor te gee dat hulle ons kan uitroei? Het ons tog maar liewer aan die ander kant van die Jordaan gebly!

8. Here, wat moet ek sê noudat Israel vir sy vyande moes vlug?

9. Want as die Kanaäniete en al die ander inwoners van die land dit hoor, sal hulle ons omsingel en ons totaal uitroei! Wat word dan van die eer en ontsag wat U toekom?”

10. Toe sê die Here vir Josua: “Staan op! Hoekom lê jy so met jou gesig in die grond?

11. Israel het sonde gedoen! Hulle het die ooreenkoms verbreek wat Ek met hulle gemaak het. Hulle het van die goed wat vir My opsy gesit is, vir hulleself gevat. Hulle het My besteel!

12. Dit is die rede hoekom die Israeliete nou nie hulle vyande kan wen nie. Hulle moet voor hulle uit vlug omdat hulle self nou deel geword het van die oorlogsbuit wat vernietig moet word. Ek gaan julle alleen los, tensy julle al die goed wat aan My geoffer moes word, teruggee en dit vernietig.

13. Staan op! Beveel die mense om hulleself te reinig en hulleself gereed te maak om môre voor My te verskyn. Want dit is wat Ek, die Here, die God van Israel te sê het: Julle het van die goed by julle wat Ek julle beveel het om te vernietig. Julle sal nie weerstand kan bied teen julle vyande tensy julle van hierdie goed ontslae raak nie!

14. “Môre moet julle in julle stamverband aantree. Die Here sal die stam uitwys waaraan die skuldige persoon behoort. Daardie stam moet dan aantree volgens familiegroepe en die Here sal die skuldige familiegroep uitwys. Uit hierdie familiegroepe sal die Here dan die skuldige gesin aanwys. Daarna moet die lede van die gesin een vir een na vore kom.