Die Boodskap

Josua 7:15-26 Die Boodskap (DB)

15. Die een wat dan uitgewys word as die een wat van die goed gevat het wat aan die Here behoort, moet met vuur verbrand word: hy, sy gesin en al sy besittings, want hy het ’n skandelike ding gedoen. Hy het my ooreenkoms met Israel verbreek.”

16. Die volgende môre vroeg het Josua die Israeliete in stamverband laat aantree. Toe is die stam van Juda uitgewys.

17. Uit die stam van Juda is die familiegroep van Serag aangewys. Uit hierdie familiegroep is die gesin van Sabdi uitgekies.

18. Toe hy die gesin van Sabdi een vir een laat verbykom, is Akan die seun van Karmi, die kleinseun van Sabdi, as die skuldige aangewys.

19. Toe sê Josua vir Akan: “My seun, gee tog aan die Here die God van Israel die eer wat Hom toekom en bely jou skuld voor Hom. Sê vir my wat jy gedoen het. Moenie iets vir my probeer wegsteek nie.”

20. “Dis waar,” het Akan gesê. “Ek het teen die Here, Israel se God, gesondig.

21. Ek het onder die buit in Jerigo ’n pragtige mantel uit Babilonië gesien en ook sowat twee kilogram silwer en ’n staaf goud van meer as ’n halwe kilogram. Ek wou dit bitter graag gehad het. Daarom het ek dit maar vir my gevat. Ek het dit in my tent begrawe. Die silwer is dieper as die ander goed begrawe.”

22. Josua het mense gestuur om te gaan kyk of dit so is. Hulle is haastig na die tent toe. Daar aangekom, kry hulle alles net so daar begrawe, met die silwer heel onder.

23. Hulle het al die goed uit die tent gehaal en dit na Josua en die Israeliete toe gebring. Daar by die heiligdom het hulle die goed voor die Here op die grond uitgeskud.

24. Toe vat Josua vir Akan en sy kinders en sy vee en alles wat aan hom behoort het, saam met die silwer, die mantel en die goud wat hy gevat het, na die laagte van Akor toe. Die volk het saamgegaan.

25. Toe sê Josua vir hom: “Jy het hierdie ramp oor ons gebring, maar vandag bring die Here die dood oor jou!” Die volk het toe vir Akan en sy gesin met klippe doodgegooi en hulle saam met hulle besittings verbrand.

26. Hulle het ’n groot hoop klippe op hulle gestapel om almal te herinner aan wat daar gebeur het. Daarna het die Here se woede bedaar. Van toe af staan die plek bekend as die Akorlaagte: die laagte van swaarkry en lyding.