Die Boodskap

Josua 7:14-21 Die Boodskap (DB)

14. “Môre moet julle in julle stamverband aantree. Die Here sal die stam uitwys waaraan die skuldige persoon behoort. Daardie stam moet dan aantree volgens familiegroepe en die Here sal die skuldige familiegroep uitwys. Uit hierdie familiegroepe sal die Here dan die skuldige gesin aanwys. Daarna moet die lede van die gesin een vir een na vore kom.

15. Die een wat dan uitgewys word as die een wat van die goed gevat het wat aan die Here behoort, moet met vuur verbrand word: hy, sy gesin en al sy besittings, want hy het ’n skandelike ding gedoen. Hy het my ooreenkoms met Israel verbreek.”

16. Die volgende môre vroeg het Josua die Israeliete in stamverband laat aantree. Toe is die stam van Juda uitgewys.

17. Uit die stam van Juda is die familiegroep van Serag aangewys. Uit hierdie familiegroep is die gesin van Sabdi uitgekies.

18. Toe hy die gesin van Sabdi een vir een laat verbykom, is Akan die seun van Karmi, die kleinseun van Sabdi, as die skuldige aangewys.

19. Toe sê Josua vir Akan: “My seun, gee tog aan die Here die God van Israel die eer wat Hom toekom en bely jou skuld voor Hom. Sê vir my wat jy gedoen het. Moenie iets vir my probeer wegsteek nie.”

20. “Dis waar,” het Akan gesê. “Ek het teen die Here, Israel se God, gesondig.

21. Ek het onder die buit in Jerigo ’n pragtige mantel uit Babilonië gesien en ook sowat twee kilogram silwer en ’n staaf goud van meer as ’n halwe kilogram. Ek wou dit bitter graag gehad het. Daarom het ek dit maar vir my gevat. Ek het dit in my tent begrawe. Die silwer is dieper as die ander goed begrawe.”