Die Boodskap

Josua 6:1-5 Die Boodskap (DB)

1. Jerigo se stadsdeure is deeglik gesluit. Daar was nêrens plek om in te kom nie, so bang was die mense vir die Israeliete. Niemand is toegelaat om in of uit te gaan nie.

2. Maar die Here het vir Josua gesê: “Ek gee Jerigo, met sy koning en al sy soldate, in jou mag oor.

3. Jy en al jou soldate moet elke dag, vir ses dae, reg om die stad loop.

4. Voor die verbondsark, wat julle elke dag saam met julle moet dra, moet sewe priesters loop, elkeen met ’n trompet. Op die sewende dag moet julle sewe maal om die stad loop terwyl die priesters op die trompette blaas.

5. Sodra julle die priesters op die trompette hoor blaas, moet almal die aanvalskreet hard uitskree. Dan sal die mure van die stad inmekaarval sodat julle maklik in die stad kan ingaan om dit te oorrompel.”