Die Boodskap

Josua 5:4-6-13 Die Boodskap (DB)

4-6. Josua moes hulle besny, want toe Israel uit Egipte weg is, was al die mans reeds besny. Maar gedurende die 40 jaar wat dit hulle geneem het om deur die woestyn te trek, is nie een van die seuntjies wat toe gebore is, besny nie. Teen Josua se tyd was die Israeliete wat uit Egipte getrek het al dood omdat hulle aan die Here ongehoorsaam was. Daarom dat Hy gesê het dat hulle nie die ryk en vrugbare nuwe land sou sien wat Hy aan hulle voorouers beloof het nie.

7. Dit is hierdie mense se seuns wat Josua nou besny het, omdat hulle nie op pad na die Beloofde Land toe besny is nie. Hulle moes nou hulle ouers se plek volstaan.

8. Nadat die besnydenis afgehandel is, het hulle vir eers in die kamp gebly totdat hulle gesond was.

9. Toe sê die Here vir Josua: “Vandag bevry Ek julle van die vernedering wat julle beleef het as slawe in Egipte.”Daarom is die plek Gilgal genoem, die naam wat dit nog steeds het.

10. Terwyl die Israeliete nog by Gilgal op die vlakte naby Jerigo gekamp het, het hulle die paasfees op die aand van die veertiende dag van die maand gevier.

11. Die dag na die paasfees het hulle vir die eerste keer kos van die Beloofde Land geëet: ongesuurde brood en gebraaide koring.

12. Daardie oggend toe hulle van die kos van die land geëet het, het die manna vir altyd weggebly. Hulle het van toe af van hulle eie oeste in die land Kanaän geleef. Daar was nie weer manna nie.

13. Op pad Jerigo toe het Josua skielik ’n man voor hom sien staan met sy swaard in sy hand. Josua stap toe na hom toe en vra: “Is jy ’n vriend of ’n vyand?”