Die Boodskap

Josua 4:1-11 Die Boodskap (DB)

1. Toe die hele volk veilig deur die Jordaan is, het die Here vir Josua gesê:

2-3.  “Kies nou twaalf mense, een uit elke stam. Sê vir hulle om twaalf klippe uit die middel van die Jordaan, daar waar die priesters gestaan het, te gaan haal. Laat hulle hierdie klippe na die plek toe bring waar julle vannag kamp opslaan en laat hulle die klippe daar neersit.”

4. Josua roep toe die twaalf wat hy gekies het bymekaar

5. en sê vir hulle: “Loop tot in die middel van die Jordaan, by die ark van die Here verby. Daar moet julle elkeen ’n klip optel en dit op julle skouers uitdra, een klip vir elkeen van die twaalf stamme.

6. Hierdie klippe sal die mense herinner aan wat die Here gedoen het. As julle kinders dan eendag vir julle vra: ‘Wat beteken hierdie klippe vir julle?’

7. kan julle vir hulle vertel dat die water van die Jordaan ophou vloei het toe die verbondsark van die Here daardeur is. En dat hierdie klippe vir die Israeliete ’n permanente herinnering aan hierdie wonderwerk is.”

8. Die mense het toe Josua se opdrag uitgevoer. Hulle het twaalf klippe, volgens die Here se opdrag aan Josua, in die middel van die Jordaan gaan optel, een vir elke stam. Hulle het hierdie klippe na hulle oornagkampplek toe gevat en daar neergesit.

9. Josua het toe nog ’n herinneringsteken van twaalf klippe in die middel van die Jordaan opgerig op die plek waar die priesters met die verbondsark gestaan het. (Volgens oorlewering is hulle tot vandag toe nog daar.)

10. Die priesters wat die verbondsark gedra het, het in die middel van die Jordaan bly staan totdat al die Here se opdragte, wat Moses vir Josua gegee het, afgehandel was. Die volk het intussen vinnig deur die droë rivier na die oorkant toe gegaan.

11. Eers toe die hele volk deur is, het die priesters hulle met die ark van die Here gevolg.