Die Boodskap

Josua 3:10-17 Die Boodskap (DB)

10. Soos julle die land intrek, sal Hy die Kanaäniete, Hetiete, Hewiete, Feresiete, Girgasiete, Amoriete en Jebusiete voor julle uitdryf om vir julle plek te maak. Dan sal julle weet dat die lewende God saam met julle is.

11. Die verbondsark van die Here wat oor die hele aarde heers, wat voor julle uit deur die Jordaanrivier gaan, bewys dit.

12. Intussen moet julle solank vir julle twaalf mense as julle verteenwoordigers kies, een uit elke stam.

13. Sodra die priesters wat die verbondsark dra hulle voete in die water sit, sal die Jordaan ophou vloei. Dan sal die rivier aan die een kant opdam.”

14. Die volk het kamp opgebreek en gereedgemaak om deur die Jordaan te trek, met die priesters wat die verbondsark dra aan die voorpunt.

15. Soos gewoonlik in die oestyd was die Jordaan tot oorlopens toe vol. Toe die voete van die priesters wat die ark van die ooreenkoms met die Here gedra het, aan die water raak,

16. het die water dadelik opgehou vloei. Dit het aan die bopunt by Adam, die dorp naby Sartan, begin opdam. Aan die onderpunt van die Jordaan het die water bly wegvloei na die Dooie See toe totdat die rivier opgedroog het. Daarna het die volk regoor Jerigo deur die rivier begin trek.

17. Intussen het die priesters wat die verbondsark van die Here gedra het in die middel van die droë rivierbedding bly staan terwyl die volk deurgetrek het. Hulle het daar bly staan totdat almal uiteindelik deur die Jordaan gestap het.