Die Boodskap

Josua 24:16-23 Die Boodskap (DB)

16. Toe sê die volk: “Ons dink nie vir ’n enkele oomblik daaraan om ons rug vir die Here te draai en ander gode te dien nie!

17. Die Here ons God het ons en ons voorouers van al die swaarkry daar in Egipte bevry. Ons het al die magtige wonders wat Hy gedoen het, met ons eie oë gesien. Die Here het ons beskerm, maak nie saak waar ons was of met watter mense ons te doen gekry het nie.

18. Dit is Hy wat die Amoriete en al die ander nasies wat in hierdie land gebly het, verdryf het. Ons gaan beslis ook die Here dien; Hy is ons God!”

19. Toe sê Josua vir die volk: “Julle moenie dink dit is so maklik om die Here te dien nie. Hy is ’n heilige God wat sy groot Naam beskerm. Hy verwag dat mense Hom reg moet dien. Hy gaan nie maar net elke keer julle sonde en julle opstandigheid oorsien nie.

20. As julle julle rug vir die Here draai en agter ander gode aanloop, sal Hy teen julle draai en julle baie swaar laat kry, ten spyte daarvan dat Hy nog altyd net goed was vir julle. Hy sal julle vernietig.”

21. “Glo ons, ons is vasberade om die Here te dien!” het die volk geantwoord.

22. “Onthou, julle is self verantwoordelik vir hierdie besluit,” het Josua toe vir hulle gesê. “Dit is julle eie keuse om die Here te dien. Julle sal self daarvoor moet instaan.”“Dit is goed so,” het die volk geantwoord.

23. “Nou goed, dan moet julle onmiddellik ontslae raak van al hierdie vreemde gode wat nog onder julle is,” het Josua geantwoord. “Sweer trou aan die Here, die God van Israel.”