Die Boodskap

Josua 23:1-11 Die Boodskap (DB)

1. Die jare het verbygegaan en Israel het rustig, sonder enige verdere probleme saam met hulle vyande in die land gebly wat die Here aan hulle gegee het. Teen hierdie tyd was Josua al baie oud.

2. Hy het toe ’n volksvergadering belê met die leiers, die hoofde van stamme, die regters en die ampsdraers van die Israeliete. Hy sê toe vir hulle: “Ek is al baie oud.

3. Julle het alles gesien en beleef wat die Here julle God tydens my leeftyd vir julle gedoen het. Julle het gesien hoe Hy namens julle teen julle vyande opgetree het.

4. Ek het saam met die gebiede wat ek reeds verower het, ook die gebiede wat nog nie verower is nie, as besitting aan julle gegee: van die Jordaan af in die ooste tot by die Middellandse See in die weste.

5. Hierdie land sal aan julle behoort, want die Here julle God sal al die mense wat nou daar bly, voor julle uit laat vlug. Julle sal daar bly, nie hulle nie. Dit is die Here julle God se belofte.

6-7. “Julle moet julle uiterste bes doen om dit wat in die wetboek van Moses geskryf staan, na te kom. Moenie enige deel daarvan verwaarloos nie, want dan kan julle dalk deur die vreemde volke wat tussen julle bly, mislei word om hulle gode te dien. Moet dit nie doen nie. Moenie eers die name van hulle gode noem nie, wat nog te sê ’n eed in hulle naam aflê of hulle dien.

8. Bly altyd getrou aan die Here julle God soos julle tot nou toe was.

9. Die Here het groot en sterk nasies voor julle uit verdryf. Nie een van hulle was in staat om teen julle weerstand te bied nie.

10. Een van julle sou genoeg wees om ’n oormag aan te durf, nie omdat julle so sterk is nie, maar omdat die Here julle God aan julle kant is, net soos Hy belowe het.

11. “Ter wille van julleself moet julle die Here julle God liefhê.