Die Boodskap

Josua 22:10-18 Die Boodskap (DB)

10. Voordat die stamme van Ruben, Gad en die halwe Manassestam die Jordaan oorgesteek het, het hulle ’n groot en indrukwekkende altaar by Gelilot in Kanaän gebou.

11. Toe die res van die Israeliete hoor dat hierdie stamme ’n altaar by Gelilot aan die westekant van die Jordaan in Kanaän gebou het,

12. het hulle almal by Silo bymekaargekom en gereedgemaak om teen hulle broers aan die oostekant te gaan oorlog maak.

13. Maar voordat hulle iets verder gedoen het, het hulle eers ’n afvaardiging onder aanvoering van Pinehas die seun van die priester Eleasar na die stamme in Gilead toe gestuur.

14. Saam met hom was daar ook tien leiers van die volk, een uit elke stam, elkeen ’n hoof van ’n familiegroep.

15. Met hulle aankoms in Gilead het hulle vir die mense van die stamme Ruben en Gad en die halwe Manassestam gesê:

16. “Ons praat namens die hele gemeente van die Here. Hoekom was julle ontrou aan die God van Israel? Toe julle die altaar gebou het, het julle die rug vir die Here gedraai en teen Hom in opstand gekom!

17. Was ons sonde by Peor nie erg genoeg nie? Daar het die Here sy eie volk met ’n epidemie getref en ons dra tot vandag toe nog die gevolge daarvan.

18. En wat doen julle nou? Julle draai sowaar die rug vir die Here! Besef julle nie dat as julle vandag teen die Here in opstand kom Hy môre vir ons almal wat sy volk is, kwaad sal wees nie?