Die Boodskap

Josua 17:9-14 Die Boodskap (DB)

9. Van daar af loop die grens af na die spruit Kana toe. Die stede aan die suidekant van die rivier het egter aan Efraim behoort, alhoewel hulle in die gebied van Manasse geval het. Manasse se grens het die noordelike oewer van dié spruit in ’n westelike rigting gevolg tot waar dit in die Middellandse See uitgemond het.

10. Die gebied aan die suidekant van die kloof het aan Efraim behoort en die gebied noord daarvan aan Manasse, met die Middellandse See as die wesgrens. In die noordweste het Manasse aan Aser gegrens en in die noordooste aan Issaskar.

11. Manasse het ook ’n paar dorpe met hulle omliggende dorpe in die gebiede van Issaskar en Aser besit: Bet-San, Jibleam, Dor, Endor, Taänak en Megiddo.

12. Die mense van Manasse kon egter nie die inwoners van hierdie dorpe uit hulle dorpe verdryf kry nie; daarom het die Kanaäniete daar bly woon.

13. Later, toe die Israeliete sterker geword het, het hulle die Kanaäniete toegelaat om steeds in hierdie stede te bly, maar hulle verplig om as dwangarbeiders vir hulle te werk.

14. Die afstammelinge van Josef het ook met Josua gaan praat en vir hom gesê: “Hoekom het jy vir ons net een deel van die hele land gegee om in te bly? Besef jy nie dat die Here ons geseën het en dat ons ’n baie groot groep mense is nie?”