Die Boodskap

Josua 11:10-23 Die Boodskap (DB)

10. Daarna het Josua omgedraai, terug na Hasor toe. Ook dié stad het hy ingeneem en sy koning doodgemaak. Hasor was voorheen die magtigste van al die koninkryke in daardie omgewing.

11. Die Israeliete het al die inwoners van die stad doodgemaak en die stad totaal en al afgebrand en vernietig.

12. Josua het ook al die stede van die ander konings ingeneem en die konings en die mense daarin uitgeroei volgens die opdrag van Moses die Here se dienaar.

13. Behalwe vir Hasor het hulle nie een van die ander ou, gevestigde stede afgebrand nie.

14. Die Israeliete het die buit en al die vee van die stede vir hulleself gevat, maar die inwoners het hulle doodgemaak.

15. Die opdragte wat die Here vir Moses sy dienaar gegee het, het Moses net so aan Josua oorgedra. Josua het dit alles stiptelik uitgevoer.

16. Josua het die hele land ingeneem: die bergagtige gebiede, die hele suidelike deel, asook die hele gebied van Gosen, die laerliggende dele, die Jordaanvallei en die Israelberge met hulle voetheuwels.

17-18. Die gebied het gestrek van die Kaalberg in die suide, wat oploop na Seïr toe, tot by Baäl-Gad, aan die voet van die berg Hermon in die Libanonvallei in die noorde. Josua was lank in ’n oorlog met die konings van hierdie gebied gewikkel, maar hy het hulle uiteindelik almal verslaan en doodgemaak.

19. Behalwe die Hewiete wat in Gibeon gebly het, was daar nie een ander stad wat met die Israeliete ’n vredesverdrag gesluit het nie. Hulle is almal in gevegte verslaan.

20. Die Here het toegelaat dat hulle hardkoppig bly. Hulle het toe in oorloë met die Israeliete betrokke geraak en is voor die voet vernietig, volgens die Here se opdrag aan Moses.

21. In dié tyd het Josua ook die Enakiete in die berge van Hebron, Debir en Anab, asook in die berggebiede van Juda en Israel, uitgeroei.

22. Daar het geen Enakiete in die gebied van die Israeliete oorgebly nie. Hier en daar in die gebiede van Gasa, Gat en Asdod was daar klein groepies van hulle oor.

23. Volgens die Here se opdrag aan Moses het Josua die hele land ingeneem. Hy het dit aan die Israeliete as hulle besitting gegee deur dit gelykop onder die stamme te verdeel. Na ’n ruk was die land uiteindelik vry van oorlog.