Die Boodskap

Josua 1:7-17 Die Boodskap (DB)

7. Wees sterk. Vertrou My met alles in jou. Maak seker dat jy al die wette nakom wat Moses vir jou gegee het. Gehoorsaam selfs die heel kleinste voorskrifte, dan sal jy suksesvol wees in alles wat jy ook al aanpak.

8. Jy moet hierdie wetboek van vroeg tot laat lees. Dink dag en nag daaroor na en maak seker dat jy alles doen wat daarin geskryf staan. Dan sal dit met jou goed gaan. Dan sal jy sukses behaal.

9. Onthou, dit is Ek self wat jou hierdie opdrag gee: wees sterk en vertrou My met alles in jou! Moenie vir iets of iemand skrik of bang wees nie, want Ek, die Here jou God, is by jou waar jy ook al gaan.”

10. Josua sê toe vir die amptenare van die volk:

11. “Gaan deur die kamp en sê vir die mense: Kry vir julle padkos reg, want oor drie dae trek ons deur die Jordaan om die land in besit te neem wat die Here julle God vir julle gee.”

12. Toe roep Josua die stamme van Ruben en Gad en die halwe stam van Manasse bymekaar. Hy sê vir hulle:

13-14. “Julle onthou mos dat die Here se dienaar, Moses, vir julle gesê het: ‘Die Here julle God sal hierdie stuk grond aan die oostekant van die Jordaan vir julle gee as julle nuwe woonplek. Laat julle vroue, kinders en vee dan solank hier bly terwyl julle met julle wapens voor die res van die stamme uittrek om hulle te help om die land in te neem.

15. Nadat die Here vir julle volksgenote ook ’n rusplek gegee het soos vir julle, en nadat julle hulle gehelp het om die land wat die Here julle God vir hulle gee, in te neem, kan julle weer hierheen terugkom. Dan kan julle hier aan die oostekant van die Jordaan kom bly. Dit is die gebied wat Moses, die Here se dienaar, vroeër aan julle gegee het.”

16. Hulle het Josua geantwoord: “Ons sal alles doen wat jy sê en ons sal gaan waarheen jy ons stuur.

17. Ons sal na jou luister soos ons na Moses geluister het. Mag die Here jou God by jou wees soos Hy by Moses was.