Die Boodskap

Josua 1:5-12 Die Boodskap (DB)

5. Jou hele lewe lank sal niemand jou kan oorwin nie. Ek sal by jou wees soos Ek by Moses was. Ek sal jou nooit in die steek laat of jou alleen los nie.

6. Wees sterk, vertrou My blindelings. Jy is die leier wat hierdie volk die land moet inlei wat Ek met ’n plegtige belofte aan hulle voorouers beloof het.

7. Wees sterk. Vertrou My met alles in jou. Maak seker dat jy al die wette nakom wat Moses vir jou gegee het. Gehoorsaam selfs die heel kleinste voorskrifte, dan sal jy suksesvol wees in alles wat jy ook al aanpak.

8. Jy moet hierdie wetboek van vroeg tot laat lees. Dink dag en nag daaroor na en maak seker dat jy alles doen wat daarin geskryf staan. Dan sal dit met jou goed gaan. Dan sal jy sukses behaal.

9. Onthou, dit is Ek self wat jou hierdie opdrag gee: wees sterk en vertrou My met alles in jou! Moenie vir iets of iemand skrik of bang wees nie, want Ek, die Here jou God, is by jou waar jy ook al gaan.”

10. Josua sê toe vir die amptenare van die volk:

11. “Gaan deur die kamp en sê vir die mense: Kry vir julle padkos reg, want oor drie dae trek ons deur die Jordaan om die land in besit te neem wat die Here julle God vir julle gee.”

12. Toe roep Josua die stamme van Ruben en Gad en die halwe stam van Manasse bymekaar. Hy sê vir hulle: