Die Boodskap

Jeremia 9:1-6 Die Boodskap (DB)

1. Verder het Jeremia gesê: “Ag, ek wens my kop was soos ’n put wat vol water is en my oë soos ’n fontein vol trane. As dit maar so kon wees, sou ek dag en nag gehuil het oor al my mense wat doodgemaak is.

2. Ek wens ek het ’n hut in die woestyn gehad. Wat sou ek nie gee om net daarheen te ontsnap en my mense agter te laat nie. Die mense van my volk is almal ontrou in hulle verhoudings. Hulle is ’n klomp verraaiers.”

3. “My volk se leuens tref mense soos pyle. Hulle sorg nie dat die waarheid wen nie, maar die leuens. Die verkeerde goed wat hulle doen, word net al hoe erger. Hulle gee niks meer vir My om nie,” sê die Here.

4. “Pas op vir jou vriende! Moenie jou familie of jou volksgenote enigsins vertrou nie! Hulle is almal rugstekers en versprei vals stories oor mekaar.

5. Vriende lieg en bedrieg mekaar. ’n Mens kry net nie meer iemand wat die waarheid praat nie. Dit is al ’n tweede natuur vir hulle om nie die waarheid te praat nie. Baie van hulle is al so vasgevang in hulle valsheid dat hulle nie meer kan ophou om verkeerd te doen nie.

6. Hulle hou net aan om leuen op leuen te vertel. So ver as wat hulle gaan, bedrieg hulle mense. Hierdie mense is veronderstel om my mense te wees, maar hulle weier om enigiets met My te doen te hê,” sê die Here.