Die Boodskap

Jeremia 6:10-14 Die Boodskap (DB)

10. Met wie sal ek praat? Wie sal luister as ek ’n waarskuwing gee? Dit lyk of hulle ore toe is, want hulle luister nie na wat ek te sê het nie. Hulle maak grappies van wat die Here sê en neem nie sy woorde ernstig op nie.

11. Ek kan aanvoel hoe kwaad die Here vir hulle moet wees. Ek kan my woede nie langer inhou nie. Die Here sê: “My woede gaan uitbars oor Jerusalem. Laat die kinders wat in die strate speel, mooi verstaan hoe kwaad Ek is, ook die jongmense, waar hulle ook al bymekaar is. Ek sal ook nie mans, vroue, oupas en oumas spaar nie.

12. Die vyand sal kom en hierdie mense wat My so kwaad maak se huise vat. Hulle sal ook hulle landerye afvat en wat meer is, ook hulle vroue. Ek sal die burgers van hierdie land straf,” sê die Here.

13. “Almal, van die eenvoudigste tot die vernaamste mense, probeer op ’n skelm manier ryk word. Selfs ook die profete en die priesters doen oneerlike dinge.

14. Hulle probeer die probleme van die Here se mense met goedkoop raad oplos. Hulle maak of alles reg en goed is, terwyl dit eintlik baie sleg gaan.