Die Boodskap

Jeremia 39:12-18 Die Boodskap (DB)

12. “Kyk goed na Jeremia en sorg dat hy niks oorkom nie. As hy iets vra, gee dit vir hom.”

13. Die koning van Babel het belangrike offisiere gehad wat vir Jeremia moes sorg. Hulle was Nebusaradan, die hoof van die koning se persoonlike wagte, Nebusasban, hoof van die paleis, en Nergal-Saresar, wat die hoof van die weermag was, en ook nog ander offisiere.

14. Hulle het Jeremia uit die tronk laat haal en vir Gedalja opdrag gegee om vir hom te sorg. Gedalja was die seun van Agikam en die kleinseun van Safan. Hy het Jeremia na sy huis toe teruggevat. So kon Jeremia weer tussen sy eie mense bly.

15. Terwyl Jeremia nog in die tronk was, het die Here vir hom ’n opdrag gegee. Hy het gesê:

16. “Sê vir Ebed-Melek wat uit Afrika kom, die Here wat die God van Israel is en sterker as alles en almal is, sê: Ek sal alles met Jerusalem doen wat Ek gedreig het om te doen. Vir die stad wag daar nie goeie dinge nie, maar baie slegte dinge gaan gebeur. As die tyd kom, sal jy dit sien gebeur.

17. Maar jy kan gerus wees, Ek sal jou red uit die hande van die mense vir wie jy so bang is.

18. Omdat jy My vertrou het, sal Ek jou lewe spaar. Jy sal nie in ’n geveg doodgaan nie. Ek sal sorg dat jy veilig is.” Dit is wat die Here sê sal gebeur.