Die Boodskap

Jeremia 36:10-16 Die Boodskap (DB)

10. Baruk het uit die boek wat hy vir Jeremia geskryf het vir almal voorgelees. Hulle was in Gemarja se kantoor in die tempel toe hy dit gedoen het. Gemarja was die seun van Sallum, wat sekretaris in die paleis van die koning was. Hierdie kamer was in die boonste voorhof naby die nuwe ingang van die tempel.

11. Miga, ’n seun van Gemarja en kleinseun van Safan, het ook gehoor wat Baruk uit die boek voorgelees het.

12. Hy het toe na die sekretaris se kantoor in die paleis gegaan. Al die senior amptenare was in die vertrek besig met ’n vergadering. Hulle was Elisama die sekretaris, Delaja die seun van Semaja, Elnatan die seun van Akbor, Gemarja die seun van Safan, Sedekia die seun van Gananja en ook nog ander amptenare.

13. Toe Miga vir hulle vertel wat Baruk vir die mense by die tempel voorgelees het,

14. het die amptenare vir Jehudi gestuur om Baruk te gaan vra om dit ook vir hulle te kom voorlees. Jehudi was ’n seun van Netanja en kleinseun van Selemja, en ’n agterkleinseun van Kusi. Baruk het die boek gevat en na die paleis toe gegaan waar hulle was.

15. Die amptenare het Baruk genooi om te sit en uit die boek vir hulle voor te lees. Hy het gemaak soos hulle gevra het.

16. Toe hulle alles gehoor het wat Baruk voorgelees het, was hulle baie bang. Hulle het vir Baruk gesê: “Ons moet vir die koning alles vertel wat ons gehoor het.”